ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Hein Oosthuizen van die plaas Last Hope op die Vivo-pad staan met strikke van onwettige jagters, asook spykers en ‘n 6cm bout waarmee voertuie gesaboteer word.

Onwettige jagters bedreig bergtarentale

 

News  Date: 11 February 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Met strikke, spykers en ketties maak onwettige jagters die lewe moeilik vir dier, mens en veral die bergtarentaal.

Dit is die ondervinding van mnr. Hein Oosthuizen van die plaas Last Hope op die Vivo pad.

“Die bergtarentale word met honde in ‘n boom gejaag en dan met ketties van kant gemaak. ‘n Mens kry nie meer so baie bergtarentale nie. Hulle raak skaars en word nou bedreig deur die onwettige jagters,” sê mnr. Oosthuizen. Hy het die saak by die SAPS aangemeld wat die terrein die naweek deursoek het vir leidrade. Geen arrestasies is nog gemaak nie.

Verder moet die plaas gereeld gefynkam word vir draadstrikke.

“Net in die laaste twee weke het ons nege strikke verwyder,” sê mnr. Oosthuizen. Dis veral in die bergagtige gedeelte van die plaas waar baie strikke gevind word. Die bosbokke word daarmee gevang en die beeste trap ook in die strikke wat groot pyn en skade veroorsaak. Die onwettige jagtery pla veral die laaste jaar en ‘n half. Die beeste kan glad nie meer buite slaap nie.

In die bergagtige dele kan die jagters soms gehoor word omdat die klank so ver trek. Die oorsprong van die klank is egter bedrieglik as gevolg van die eggo tussen die berge.

“Teen die tyd wat ons daar aankom, is hulle weg.”

Deesdae loop die wiele van die voertuie ook deur. Spykers en boute word in die paaie gestel, veral op die paadjies waar die vierwielaangedrewe voertuie loop, moontlik om die voertuie te saboteer.

“Iets wat ek nog nooit tevore in my lewe gesien het nie, is ‘n band met ‘n 6cm bout met ‘n moer binne in. Ons moes die band lossny van die bout. Jy kon dit nie uittrek nie, want die moer het gekeer.” Hy sê dat die plaas binne reikafstand van Tshikota en Sinthumule is.

Die feit dat inwoners van omliggende gebiede soms uit onkunde dink dat onwettige jag hul reg is, het na vore gekom toe die LUR vir Veiligheid in 2003 samesprekings met die plaaslike wildboere gevoer het. Later die jaar is pamflette in sekere dele versprei om inwoners bewus te maak van die feit dat onwettige jag ‘n ernstige oortreding is.

Mnr. Oosthuizen het ook die jag van die bergtarentale by Fauna en Flora aangemeld.

“Ons het twee troppe gehad, maar nou word hierdie relatiewe skaars soort al minder,” sê Oosthuizen.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines