ADVERTISEMENT:

 

Nuwe organisasie om erfenis te beskerm

 

News  Date: 11 February 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Lede van die Zoutpansberg Skermutselingsmuseum by die Lalapanzi Hotel het die afgelope week ‘n nuwe wyer organisasie hier op die been gebring, bekend as die Zoutpansberg Skermutselings- en Erfenisstigting.

Mnr. Pikkie Truter sal optree as voorsitter met Charles Leach as ondervoorsitter. André Smit is die tesourier en Inga Gilfillan is sekretaresse. Marius Gilfillan, prof. Louis Changioun en Gerrit Hendricks is gekies as addisionele lede.

Die doel van die Zoutpansberg Skermutselings- en Erfenisstigting is om alle erfenisgoedere te bewaar en ook uit te stal. Die uitstallings sal by Lalapanzi Hotel en Konferensiesentrum gedoen word.

Goedere van historiese belang kan aan die organisasie geskenk word of net geleen word. Daar is alreeds waardevolle skenkings aan die organisasie gedoen en mev. Senta Wessels het ook reeds die skilderye van die Duitse sendeling, Heese, en sy vrou, asook die Bushveldt Carbineers afgehandel. Sy is tans besig met die skilder van “Skermutselings by Vliegenpan” op ‘n doek van 1800mm x 1300mm. Hierdie skilderye sal deel vorm van die uitstalling.

Die lewensgroote kopstuk van genl. Beyers is ook reeds deur die organisasie bekom en sal ook uitgestal word. Onderhandelings vorder ook met kapt. Bez Bezuidenhout van die plaaslike polisie om die geweer van Joao Albasini, wat in hul besit is, vir die museum te bekom.

Daar is ook al etlike briewe aan die Makhado Munisipaliteit geskryf om die borsbeeld van Louis Trichardt, asook die CR de Wet van Wyk-skilderye wat onder twyfelagtige omstandighede geberg word, se omstandighede en toekoms te kan bepaal, maar daar is nog geen terugvoer van die munisipaliteit nie.

Die organisasie beplan intussen ‘n groot onthullingsdag en aandfunksie op Saterdag, 23 April, wat veral deur militêre organisasies bygewoon moet word, asook ander persone wat in die verlede bydraes gemaak het om die skermutselingsroete en –museum te vestig. ‘n Toer sal hierdie verrigtinge voorafgaan. Persone wat graag ‘n bydrae wil maak ten opsigte van die funksie kan vir Charles Leach skakel by tel. 083 228 3874.

Die volgende skermutselingstoer vind op Saterdag, 26 Februarie om 09:30 vanaf die Lalapanzi Hotel plaas. Almal is welkom en bespreking moet vooraf gedoen word by tel. (015) 516 5455.

Persone wat ‘n bydrae wil maak ten opsigte van die museum kan vir Pikkie Truter skakel by 516 1526 of Inga Gilfillan by 072 509 3939.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines