

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 February 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - “Hulle het my vir ‘n sucker gevang,” het mnr. Leon Koen opgemerk nadat booswigte hom van R3 000 by die OTM by Ricky’s beroof het.
Leon vertel dat hy Vrydag by die OTM aangedoen het om ‘n balansnavraag op sy rekening te doen. Die OTM het aanvanklik sy kaart geweier, maar toe die kaart skielik aanvaar word, het daar iets in ‘n swart taal op die skerm verskyn. Leon het onraad gemerk en die kanselleer knoppie gedruk. Groot was sy verbasing toe sy kaart se geheime kode duim-grootte op die skerm verskyn. Daar het ‘n man skuins agter hom gestaan.
In die verwarring en verbasing, het die OTM weer ‘n bankkaart uitgespoeg, maar dit was nie sy bankkaart nie. Die kaart behoort aan ‘n ene M. R. Seete. Intussen het die man agter hom spore gemaak en Leon, wat besef het iets is verkeerd, het hom agterna gesit.
Te midde van die agtervolging het Leon die bank geskakel om sy kaart te kanselleer. Tot sy skok het die stem hom aan die ander kant meegedeel dat dit moeilik is om te glo, aangesien hy sopas R2 000 onttrek het en tien sekondes later weer R1 000. Altesaam het die uitstappie hom R3 000 gekos – ‘n duur les om te leer.
Leon het intussen die saak by die plaaslike SAPD aangemeld. Weereens was sy verbasing groot toe hy meegedeel is dat hy nie al inwoner is wat ‘n slagoffer geword het van dié slenter nie. Na wat verneem word was daar drie soortgelyke voorvalle, almal met dieselfde omstandighede. Niemand kan egter verduidelik hoe die skarminkels dit regkry om by die OTM se rekenaarstelsel in te skakel nie.
Leon sê dat hy nie kwaad is vir die betrokke bank aan wie die OTM behoort nie. Die voorval het egter weereens die kwessie rondom banke se verantwoordelikheid ten opsigte van OTMe na vore gebring. Die voorval is intussen ook onder die aandag van die betrokke bank gebring.
S/insp. Jaco Crause het Dinsdag gesê dat die tegnologie wat deur die kriminele gebruik word absoluut verbysterend is. Hy sê hy het te hore gekom van voorvalle waar booswigte miniatuur kameras met eie sender en als binne in OTM’s ingebou het om te sien watter geheime kodes onttrekers insleutel.
S/insp. Crause het weereens lede van die publiek versoek om uiters versigtig te wees wanneer hulle geld by OTM’s onttrek. Hy het ook persone wat onraad vermoed of deur dieselfde slenter gevang is, versoek om met hom te skakel by tel. 082 728 4179.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
