ADVERTISEMENT:

 

Omstrede ontwikkeling op sportterrein gaan voort

 

News  Date: 18 February 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – ‘n Gemeenskapsinkoopsentrum van R60 miljoen word beoog op ‘n omstrede perseel wat ‘n groot gedeelte van die sentrale sportterrein op die dorp insluit.

Die ontwikkeling is vandeesweek bespreek op ‘n vergadering wat deur die munisipaliteit belê is om die omstrede hersonering van die perseel en die beoogde ontwikkeling onder die loep te neem.

Tydens die vergadering is voorleggings gemaak deur ‘n dorp- en streeksbeplanner en ‘n verteenwoordiger van die ontwikkelaar aan wie die munisipaliteit die tender toegeken het vir die oprigting van die winkelsentrum.

Mnr. P. Perero, ‘n dorp- en streekbeplanner met uitgebreide ondervinding het besonderhede verstrek van marknavorsing wat plaaslik onderneem is en gewys op die voordele van so ‘n sentrum vir die gemeenskap. Hy het gesê ondervinding elders dui ook daarop dat die beoogde sentrum nie ‘n nadelige uitwerking op die bestaande sentrale sakegebied in die dorp behoort te hê nie, aangesien dit ‘n betreklike klein gemeenskapsentrum en nie ‘n streeksentrum is nie. Die beoogde sentrum sal slegs 15 000 vierkante meter uithuurbare sakeruimte beskikbaar stel. Dit sal nuwe ondernemings na die dorp bring en behoort gevolglik nie ‘n beduidende negatiewe impak op die bestaande sakegebied in die sentrale gedeelte van die dorp te hê nie. Hy het daarop gewys dat die dorp beskik oor ‘n sterk en goedontwikkelde sentrale sakegebied, maar beskik nie oor ‘n moderne een-stop inkoopsentrum nie. Dit bring ‘n uitvloei van koopkrag mee na sulke sentrums in Polokwane en selfs na sentrums in Gauteng.

In vraetyd het mnr. Perero toegegee dat so ‘n klein inkoopsentrum nie die totale uitvloei na elders sal kan stuit nie, aangesien die kleiner gemeenskapsinkoopsentrum nie ‘n vergelykbare “inkopie-ondervinding” met die groter streeksentrums sal kan bied nie. Oor bedenkinge wat uitgespreek is oor die plasing van die beoogde sentrum, het mnr. Perero gesê volgens ‘n opname wat gemaak is van beskikbare sakepersele in die dorp, is dit duidelik dat daar nie in die sentrale sakegebied ‘n groot genoeg aangrensende ruimte vir die beoogde ontwikkeling is nie. Hy sê die opname het ook getoon dat ‘n betreklike klein persentasie van die bestaande winkelruimte in die sentrale sakegebied vakant is.

‘n Verteenwoordiger van die ontwikkelaar, Landmark Property Developers, mnr. Kisten, het gewys op die behoefte aan ‘n gerieflike eenstop inkoopsentrum in die streek, om die uitvloei van koopkrag na ander streke te voorkom. Die beoogde perseel langs die N1 sal ook meebring dat ‘n beduidende gedeelte van die huidige deurverkeer plaaslik sal sake doen. Die projek sal dus bestedingslekkasie na ander streke kan stuit, nuwe werksgeleenthede skep, bestaande eiendomswaardes verhoog en as katalisator vir ander nuwe ontwikkeling kan dien.

Die beoogde sentrum sal ‘n moderne, kosmopolitiese struktuur wees met ‘n Afrika-tema. Sewentig persent van die beskikbare vloerruimte sal opgeneem word deur nasionale kettinggroepe.

Daar is geen aanduiding dat enige van die groepe wat reeds bestaande winkels in die dorp het, sal sluit om oor te skuif na die nuwe sentrum nie. Die wat belangstel in die nuwe sentrum het aangedui dat hulle bykomende winkels daar sal inrig, sê mnr. Kisten.

Hy sê tydens die oprigting van die sentrum van R60 miljoen sal 315 tydelike werksgeleenthede vir plaaslike mense geskep word. Daar sal ook van plaaslike materiaalverskaffers en subkontrakteurs gebruik gemaak word. In die voltooide sentrum sal daar na verwagting sowat 330 permanente nuwe werksgeleenthede wees, wat ‘n beraamde bykomende jaarlikse inkomste van R10 miljoen verteenwoordig.

Op vrae het mnr. Kisten gesê dat die klubgebou van die duiweklub en die geriewe van die jukskeiklub nie deur die beoogde hersonering van die sportterrein geraak word nie. Hy het bevestig dat sy onderneming verantwoordelik sal wees vir die vervanging van die bestaande sportsaal en muurbalsentrum wat gesloop sal word. Op ‘n vraag of die nuwe geriewe eers voltooi sal word voordat die betrokke sportklubs die bestaande geriewe moet ontruim, het mnr. Kisten gesê: “Ons sou dit graag so wou doen. Alternatiewelik sal ons samesprekings met die betrokke klubs voer en hopelik tot ‘n vriendskaplike skikking kan kom.”

Die sportsaal en die muurbalkompleks sal volgens die verklaring na ‘n gedeelte van die sportgronde suid-oos van die bestaande geriewe “verskuif” word.

Prominente sakelui wat die vergadering bygewoon het, het bedenkinge uitgespreek oor die plasing van die beoogde inkoopsentrum buite die bestaande sakegebied van die dorp.

“Is dit verstandig om R60 miljoen te bestee om die dorp in twee te skeur met moontlike katastrofiese langtermyn gevolge vir die hele gemeenskap?” wou een vraesteller weet.

Die voorsitter van die plaaslike Sakekamer, mev. Jana Smith, het gesê die plaaslike sakegemeenskap verwelkom ontwikkeling, maar het ernstige vrae oor die plasing van die beoogde ontwikkeling en die waarskynlike nadelige gevolge wat dit vir bestaande beleggers in die sentrale sakegebied kan hê.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines