ADVERTISEMENT:

 

"Nuwe" lisensies jaag besighede die harnas in

 

News  Date: 18 February 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die Raad se besluit dat alle besighede in die dorp nou moet aansoek doen van besigheidslisensies het sedert verlede week plaaslike sakelui behoorlik die harnas ingejaag.

Verkeersbeamptes het verlede week begin om aansoekvorms vir die lisensies by besighede af te lewer met die opdrag dat dit ingevul en ingehandig moet word by die munisipale kantore. Besigheidslui is egter in die duister oor die motivering vir die “nuwe” lisensies en die koste daaraan verbonde. Een so ‘n ontstoke besigheidseienaar is mnr. Johan van Zyl van Jumbo Fencing.

Mnr. Van Zyl sê dat hy reeds as ‘n Beslote Korporasie geregistreer is, asook geregistreer is by die Ongevalle Kommissaris, die Werkloosheidsversekeringsfonds, die Vhembe Distriksmunisipaliteit en vir BTW.

“Waarvoor moet ons nog registreer? Ons moet ons pryse sny om kompeterend te wees met mense in die informele sektor wat in elk geval nie geregistreer is nie. Hulle kry die werk, so watter voordeel hou hierdie ‘nuwe’ lisensie vir my in?” vra mnr. Van Zyl.

Mnr. Van Zyl het ook gevra wat die Raad beoog om te doen met dié mense wat nie registreer nie.

“Dit is sommer nonsens hierdie!” sê mnr. Van Zyl.

Die Raad se Bestuurder: Gemeenskapsdienste, mnr. Thomas Ndwambi het Dinsdag gesê dat die besluit dat besighede moet aansoek doen om besigheidslisensies geneem is ingevolge bestaande wetgewing, naamlik die Wet op Besighede, Wet 71 van 1991. Dit, sê hy, gebeur in opdrag van die provinsiale regering. Ndwambi sê dat talle besighede in die dorp reeds vir etlike jare besigheid doen sonder ‘n geldige lisensie.

“Al is ‘n onderneming as ‘n spesifieke besigheid geregistreer, beteken dit nie dat die besigheid noodwendig voldoen aan die minimum vereistes van die Sertifikaat van Voldoening ten opsigte van toeganklikheid, gesondheid en veiligheid nie,” sê Nwambi. Hy het bygevoeg dat die ‘nuwe’ lisensies van toepassing is op almal, insluitend besighede in die informele sektor.

Die huidige koste verbonde aan registrasie beloop R100 per aansoek. Daar is geen afsnydatum vir aansoeke nie, maar besigheidslui wat sloer kan dalk ‘n boete van tot ‘n R1 000 opgelê word indien ‘n munisipale inspekteur ‘n besigheid sonder besigheidslisensie besoek. Besighede word ook aangeraai om nou te registreer, aangesien verhoogde tariewe van toepassing sal wees met die implementering van die Limpopo Besigheidsregistrasie Wet (Wet no. 5 van 2003) soos gepromulgeer in die Provinsiale Gasette (No. 971). Dié wet is ook ‘n uitvloeiing van die bestaande nasionale wetgewing.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines