

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 February 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – “Dit is die eerste keer dat ek so seer kry. Ek het nie eers so seer gekry toe die mallemeule ‘n paar jaar gelede by die skou omgeslaan het nie.”
So vertel ‘n erg gekneusde Johan Steyn na sy nagmerrie ondervinding vroeg Dinsdagoggend toe hy deur ‘n skarminkel van sy resiesfiets op die N1 geduik is. Die snye en skaafmerke is seer, maar nie so seer soos die erge harsingskudding nie.
“Jy ry nie weer alleen nie – selfs al moet jy saam met ‘n sexy blondine ry,” skerts Johan se vrou, Hannetjie. Tog besef die egpaar dat dinge veel erger kon gewees het.
Johan is ‘n man wat sy fiksheid en fietsry as ‘n sportsoort ernstig opneem, daarom sal jy ses dae ‘n week elke oggend op die N1 aantref vir sy uurlange fietsrit.
“Ek ry net nie Sondae nie – dan rus ek,” sê Johan.
Hy vertel dat hy Dinsdagoggend sy normale roete aangedurf het – vanaf Sonop uit op die N1-suid vir ‘n halfuur en dan weer betyds terug by die huis vir werk.
“Ek wou eers ‘n ander roete ry ... plaas het ek maar,” sê Johan.
Johan sê dat hy tussen 60km/h en 70km/h gery het op die plat stuk N1 tussen Songozwi en Rissikstrate. Dit was ongeveer 05:15 en nog redelik donker. Skielik uit die hoek van sy oog het hy ‘n man op hom sien afstorm vanuit die deurloop na Eltivillas langs die munisipale sportterrein.
“Toe ek weer bykom, was ek by die huis. Ek weet ook nie hoe ek by die kliniek gekom het nie,” vertel Johan. Dan sê Hannetjie: “Omstreeks sesuur was daar ‘n klop aan die venster met Johan wat vra dat ek vir hom moet opmaak. Ek was eers vies, want hy het mos ‘n sleutel. Ek het my yskoud geskrik toe ek die gordyn wegtrek en my bebloede man daar sien staan.”
Saam met Johan was twee weldoeners, ‘n Indiërman en sy seun. Hulle het Johan bewusteloos op die N1 gevind. Gelukkig het hulle geweet waar hy woon en het hom huistoe geneem. Eers later het die dankbare Steyn-egpaar die weldoeners se name uitgevind, naamlik Amin van AA Furniture en Riaaz van Saamwerkwinkel.
“Toe ek hom daar sien staan het ek onmiddellik gedink iemand het hom raakgery. Ek sou nooit kon dink dat iemand hom op so ‘n manier van sy fiets beroof het nie,” sê Hannetjie. Johan sê ook dat hy nie kon glo dat die man hom kon inhardloop nie.
Nodeloos om te sê, Johan is sy fiets kwyt – die einste fiets wat hy ‘n paar weke vantevore van feitlik niks af begin opbou het en pas voltooi het. Tog is hy dankbaar hy lewe.
“Soos hulle vir my by die kliniek gesê hy: ‘Hierdie beserings kan reggemaak word, maar sou ‘n vragmotor dalk oor jou gery het in die donkerte – so iets kan nie weer aanmekaar gesit word nie’”.
Johan het na sy nare ondervinding ook ander fietsryers gewaarsku.
“Ek is seker hulle sal ook ander fietsryers teiken. Hulle ken die ouens se roete en weet watter tye hulle ry. Ek hou daarvan om in die oggend te ry, omdat ek te laat in die aand by die huis kom. Dit sal egter beter wees om in groepe te ry.”
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
