ADVERTISEMENT:

 

‘n Veggees soos min ... Juanita Voges (31).

Juanita werp alles in die stryd om gebruik van bene te herwin

 

News  Date: 25 February 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – “Op 19 Desember 1999 het my lewe ingrypend verander toe ek na ‘n duikongeluk die normale gebruik van my ledemate onder my nek verloor het. Ek was van daardie oomblik af ‘n kwadrupleeg. Dat ek die ongeluk hoegenaamd oorleef het, kan net as ‘n wonderwerk beskou word, aangesien etlike minute verloop het voordat ek in die swembad ontdek is.”

Só vertel Juanita Voges (31) wat sedert haar hoërskooljare ‘n bekende inwoner van Louis Trichardt is. Sy is onder andere bekend daarvoor dat sy ‘n energieke, lewenslustige leefstyl handhaaf en dat sy ‘n talentvolle atleet was.

Juanita het talle operasies ondergaan wat geweldige mediese onkoste tot gevolg gehad het. Aan moed en veggees is daar geen tekort nie en sy wend haar kenmerkende energie volledig aan in haar rehabilitasie proses.

Danksy die genade van die Hemelse Vader en ondersteuning van familie en vriende is Juanita vandag ‘n herstellende kwadrupleeg. Sy het haar grootste mylpaal bereik toe sy die verswakte gebruik van haar bene in so ‘n mate ontwikkel het dat sy, met die hulp van ‘n loopraam, 300 treë kan gee. Dit is merkwaardig aangesien sy moeisaam met een of twee treë moes begin. Daar was weinig mense wat geglo het dat sy dit enigsins sou kon doen.

Juanita se voortgesette vordering vereis egter nou gespesialiseerde rehabilitasie.

Die Aurora Hospitaal in die Oos-Kaap bied rehabilitasieprogramme en fasiliteite vir pasiënte met spesiale beserings en is vergelykbaar met die beste programme wat internasionaal beskikbaar is.

‘n Multidissiplinêre benadering word gevolg en ‘n span spesialiste betrokke by die rehabilitasie van pasiënte sluit mediese dokters, fisioterapeute, arbeidsterapeute, spraakterapeute, biokinetici, maatskaplike werkers en sielkundige in. Die verpleegpersoneel het ook spesiale opleiding in die gebied van rehabilitasie ontvang. Die fasiliteite van die hospitaal sluit in ‘n hidroterapie-area met ‘n verhitte swembad, ‘n fisioterapie gimnasium en ‘n toegeruste arbeidsterapie-area. Die hospitaal se programme het ook ten doel om pasiënte toe te rus met vaardighede wat aan hulle die grootste moontlike onafhanklikheid en waardigheid bied.

Juanita wil graag haar eie rehabilitasie met die hulp van die Aurora Hospitaal se kundige personeel tot op die hoogste moontlike vlak neem. As sy haar huidige suksesse buite die verband van ‘n intensiewe rehabilitasieprogram kon behaal, wie weet wat dan vir haar moontlik sal wees binne so ‘n program?

‘n Ses-weke-lange intensiewe rehabilitasieprogram word deur die Aurora Hospitaal vir Juanita voorgestel waarin elke moontlike faset van haar rehabilitasie intensiewe gespesialiseerde aandag sal ontvang. Die koste van so ‘n program is egter verstaanbaar hoog en Juanita benodig ongeveer R85 000 om hierdie droom van haar te verwesenlik.

Juanita het ‘n spesiale beroep op individue, sakelui, kerke en ander organisasies gedoen om finansieel by te dra om te help om haar droom te verwesenlik. Belangstellendes kan hul bydraes in onderstaande trustrekening inbetaal en daar sal gereeld terugvoer gegee word oor hoe naby daar aan die R85 000-merk gekom is. Die rekeningbesonderhede is Van Heerden & Rudolph Prokureurs, Trustrekening, ABSA Louis Trichardt, takkode 33 41 49 en rekeningnommer 1005 740 840. Die verwyssingsnommer is 16977 – Aurora.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines