

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 February 2005
MUSINA – Die ou brug oor die Sandrivier op die N1-tolpad gaan as ‘n historiese besienswaardigheid behou word. Planne vir die bewaring van die brugstruktuur is reeds ver gevorderd en sal eersdaags gefinaliseer word.
Die residentingenieur vir die Nasionale Padagentskap, mnr. Dirk Steyn, het vandeesweek by navraag bevestig dat die brug, wat in die vroeë jare veertig van die vorige eeu opgerig is, as ‘n nasionale besienswaardigheid behou gaan word. Die beplanning vir die historiese projek word onderneem deur die Nasionale Padagentskap in samewerking met die ondernemings GMKS en Civec.
Vir talle ou inwoners van Musina hou die ou brug oor die Sandrivier aangename herinneringe in. Dit was in ‘n stadium ‘n gewilde uitspanplek waar mense in die koelte onder die brug in die droë Sandrivier piekniek gehou het.
Die suidelike toegang tot die ou brug is reeds verwyder om voldoende ruimte te laat vir die veilige deurvloei van moontlike vloedwater. Die suidelike gedeelte van die struktuur sal ook kundig afgerond word om dit teen moontlike vloedskade te beskerm. Die noordelike toegang tot die brug word behou en sal aansluit by ‘n spesiale stilhouplek wat aan die noordekant van die nuwe brug ingerig sal word. Vanaf die stilhouplek sal mense kan afstap na die ou brug om die historiese struktuur te besigtig.
Vanaf die ou brug is die oorblyfsels van ‘n vorige brug - die tweede oorgangstruktuur oor die Sandrivier - verder terug in die rivier - ook sigbaar. Oorblyfsels van die heel eerste geboude oorgang, wat uit ‘n beton blad deur die rivierbedding bestaan het, kan ook daarnaby gesien word. Die betonblad van die heel eerste ou oorgang is erg deur die vloed van 2000 beskadig. Die betonblad is indertyd aangebring by die drif wat in die vorige eeu deur transportryers deur die Sandrivier gebruik is.
Die moderne, nuwe brug is die vierde oorgang wat oor die Sandrivier op die nasionale pad na Musina gebou is. Die nuwe brug, wat aan moderne internasionale standaarde voldoen, is teen die einde van verlede jaar amptelik in gebruik geneem, nadat dit voltooi is as deel van die opgraderingswerk aan die laaste 20 kilometer van die N1 suid van Musina.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
