

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 March 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die meerderheid eienaars van die Melkhoutkopjes plotte en plase wil verkoop en is haastig dat die proses met meer spoed hanteer moet word.
Daarmee trek hulle ‘n streep deur die beskuldigings tydens ‘n ANC-protesoptog van 5 Februarie dat boere doelbewus die grondhervorming op onwettige wyse probeer kelder. Slagspreuke soos “Land terug vanaf diewe,” “Jou tyd is verby” en “Tyd om te vat” wat rondgeswaai is, het afbreuk gedoen aan die beeld van die regering by eienaars van Melkhoutkopjes.
“Hulle sê ‘Tyd om te vat,’ maar dit is nie ons wat voete sleep nie. Wat hulle belowe om te doen, dit doen hulle nie. As hulle belowe binne drie weke, dan vat dit ses maande. As hulle belowe om jou terug te bel, dan hoor jy niks weer van hulle nie. Hulle draai en draai met die saak. Sal iemand hulle tog nie net uitwys vir die bedrieërs wat hulle is nie?” is die trant van die klagtes van party Melkhoutkopje eienaars.
Die grondeis op Melkhoutkoppies 314 LS is in Mei 2004 in die staatskoerant gepubliseer. Die grond is geleë suid van Louis Trichardt en oos van die N1. Daar is ‘n klein gedeelte wat Wes van die N1 lê. Die plaas loop van Doornspruit tot teen Boskopjes, dan tot aan die teerpad waar die Fort Edward pad wegdraai (sowat 10 km uit die dorp) en dan suid teen die lyndraad.
Die plaas Melkhoutkopjes beslaan 3398 hektaar. Meneer Peter Menné besit 1 500ha en 1 100ha behoort aan die boedel van wyle mnr. Martin Armitage. Volgens die eienaars se gegewens is daar dertien plotte van ongeveer 8,55ha elk met agt eienaars. Mnr. Arthur Nicholson besit ses plotte wat 52ha beslaan.
Me. Nikiwe Shibambu, Hoof: Kommunikasie Eenheid van die Limpopo Streek Grondeise Kommissie het hierdie week ‘n persverklaring oor die vordering van die grondeis uitgereik. Daarin word verklaar dat wanneer ‘n eis aanhangig gemaak word en navorsing onderneem is om die grondeis geldig te bevind, ‘n hervormingsproses gevolg word wat ‘n paar opsies en onderhandelinge insluit.
“Met betrekking tot die bogenoemde eis (Melkhoutkopjes) is al die nodige opsies om ‘n grondeis te prosesseer gedoen. Aanbiedinge om grond te koop is aan 12 gewillige verkopers gemaak en die kommissie gaan voort om met die twee oorblywende onwillige verkopers te onderhandel. Die eis nader voltooiing in verband waarmee ‘n voorlegging aan die minister van Landbou en Grondsake Me Thoko Didiza onderweg is,” lui die verklaring.
Op Dinsdag, 1 Maart, het me. Shibambu gesê dat die proses nog ongeveer twee weke kan neem. Sy het ook verduidelik dat een van die twee onwillige verkopers in totaliteit beswaar maak, terwyl die ander een sy beswaar sal heroorweeg na die prysaanbod.
Die waardering van die grond het eweneens ‘n voeteslepery aan die staat se kant uitgewys, voel grondeienaars. Na die grondeisevergadering met mnr. Semakaleng Mabeba, grondeisekommissaris van Melkhoutkopjes, op 17 Oktober verlede jaar, is daar al drie waardeerders aangewys.
Die eerste een het na bewering nie die projek aanvaar nie. Die tweede waardeerder het uitgekom en ‘n belofte gemaak dat die uitslag binne ‘n paar dae beskikbaar sou wees, wat nie gerealiseer het nie. Die waardeerder het na bewering van die plotte as ‘n eenheid waardeer, terwyl die plotte afsonderlik gewaardeer moes wees. ‘n Derde waardeerder, mnr. Danie van Heerden van Mokopane, het op Donderdag, 24 Februarie uitgekom en weer die plotte en plase waardeer.
Mnr. Arthur Nicholson het gesê dat die bedrag wat na die vorige waardasie genoem is, absoluut belaglik was. Hy is nog nie in kennis gestel wat die nuwe waardasie gaan wees nie.
“Ek sien nie meer kans vir ons ou dorpie nie. My geld gaan nie genoeg wees om ‘n soortgelyke plek te koop nie,” sê die 67-jarige mnr. Nicholson wat al 42 jaar op Melkhoutkopjes woon. Sy oorlede vader het daar gekoop in 1961.
‘n Familie wat nog ‘n langer verbintenis met Melkhoutkopjes het, is die Menné-familie. Die plaas is al in die familie sedert 1875,” sê mnr. Peter Menné.
“Die plase Melkhoutkopjes en Boskopjes is al so vroeg as 1886 en in die 1890’s geproklameer. Ons onderhandel met die Bekwa-familie. Hulle eis op grond van gedwonge verskuiwing. In baie gevalle het hulle uit vrye wil getrek, veral met die onafhanklikheidswording van Venda in 1967,” sê mnr. Menné. Die hele plaas het aan die familie behoort voordat plotte uitgesny en verkoop is. Mnr. Menné se voorwaarde vir verkoop is dat die plase Melkhoutkopjes en Boskopjes as ‘n eenheid verkoop word.
Die ander groot gedeelte van Melkhoutkopjes is die van wyle mnr. Martin Armitage. Hy is op 1 Oktober verlede jaar koelbloedig vermoor. Die moord het skokgolwe in die hele streek, land en buiteland veroorsaak.’n Familielid uit Engeland het na die dood van mnr. Armitage ‘n paar maande aangebly, maar is weer terug.
Die toename in misdaad vandat die grondeise geproklameer is, is vir baie eienaars ook onrusbarend. Na die moord is daar vyf maal ingebreek by wyle mnr. Armitage se plaas. Volgens ‘n sekuriteitsmaatskappy in die omgewing is daar ook twee maal ingebreek by twee eienaars en een maal elk by twee ander eienaars.
“Ons voel ons word geteiken,” het een van die eienaars gesê.
Tydens die ANC-protesoptog van 5 Februarie is ook ‘n memorandum aan die Vhembe-streek se uitvoerende burgemeester, mnr. Sam Moeti, oorhandig (vir aandag van die provinsiale LUR van Landbou, me. Dekeledi Magadzi). In die memorandum verdoem die ANC grondeienaars wat steeds geld maak uit grond waarvan die gondeis reeds in die staatskoerant afgekondig is. Grondeienaars voel egter dat hulle in ‘n benarde situasie verkeer: hulle kan geen verbeterings aanbring sonder toestemming nie, niemand wil grond wat onder grondeise is koop nie en grondeienaars hang as’t ware in die lug en kan geen toekomsplanne finaliseer nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
