

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 March 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die ingrypendste waterbeperkings in dekades is die afgelope week vir die dorp aangekondig.
Ingevolge ‘n amptelike munisipale kennisgewing word daar ‘n totale verbod op die gebruik van water geplaas, behalwe vir huishoudelik gebruik. In terme van die kennisgewings sluit huishoudelik verbruik nie die natlei van tuine en die vul van swembaddens in nie. Dié streng beperking op die gebruik van water geld vir die periode vanaf 24 Februarie tot 21 April vanjaar en is van toepassing op inwoners van Louis Trichardt, Tshikota en Eltivillas, asook staatsinstansies en selfs die privaat maksimum sekuriteitsgevangenis. Persone wat die bepalings ten opsigte van die waterbeperkings verontagsaam, kan beboet word.
Die ingrypende waterbeperkings is genoodsaak deur die buitensporige hoë waterverbruik in die dorp te midde van die knellende droogte, asook indringende instandhouding- en herstelwerk aan die hooftoevoerpyplyn vanaf die Albasinidam. Die vlak van die Albasinidam, wat Woensdag op 52,9% gestaan het, toon deurlopend ‘n daling.
Die waterbeperkings word alom geag as noodsaaklik, maar vir baie inwoners wat verlede week vir dae lank sonder enige water moes klaarkom, laat die hele waterkwessie ‘n wrang smaak in die mond.
In verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger is daar berig oor die onderbreking in watervoorsiening op Maandag, 21 Februarie. Die Raad se Direkteur Korporatiewe Dienste, mnr. Peter Magwala, het in die berig bevestig dat die probleem herstel is en dat hy nie bewus is van enige verdere probleme. Sy uitlating dat hy nie bewus is van enige verdere probleme nie het behoorlik ‘n herrie ontketen en die koerant is oorval met oproepe en skrywes van ontstoke inwoners in hoofsaaklik die oostelike deel van die dorp wat sê hulle is reeds dae lank sonder water.
Van die klaers het verlede Donderdag gesê dat hulle reeds al vier dae sonder water was. Die afgelope naweek was watertenkers steeds besig om water aan te ry vir huishoudelike gebruik. Die situasie het herinner aan die vloede van 2000 toe watervoorsiening vir ‘n geruime tyd na die dorp onderbreek is vanweë ‘n beskadigde voorsieningspyplyn.
Mnr. Magwala het Woensdag gesê dat hulle in ‘n laat stadium verlede week bewus geword het van die watervoorsieningsprobleme in die oostelike gedeeltes van die dorp wat deur die Mooikop- en Tshikota-reservoirs bedien word. By nadere ondersoek is daar bevind dat agt van die 13 lugkleppe op die voorsieningslyn onklaar geraak het. Dit, sê mnr. Magwala, het veroorsaak dat lug opgegaar het in die pype. Water is aanhoudend na die Mooikop-reservoir gepomp, maar vanweë die lugdruk in die pype het bitter min water in die reservoir uitgepomp. Die Mooikop-reservoir moet eers vol pomp, alvorens water na die Tshikota-reservoir kan afvloei.
As korttermyn oplossing, sê mnr. Magwala, is agt nuwe lugkleppe inderhaas vanaf Gauteng aangekoop teen ‘n koste van sowat R44 000. Hy sê die kleppe is intussen vervang en dat normale watervoorsiening Maandag weer herstel is.
Planne is ook reeds in plek om moontlike toekomstige watervoorsieningsprobleme te oorkom. As mediumtermyn oplossing vir die waterskaarste in die dorp het mnr. Magwala genoem dat die Raad tans beplan om die vier munisipale boorgate by Nooitgedacht direk te koppel met die Tshikota-reservoir. Die proses is reeds in ‘n gevorderde stadium en sal moontlik teen die einde Mei ‘n realiteit wees. Dit sal ondermeer die druk op die Mooikop-reservoir dramaties verlig.
Wat ‘n langtermyn oplossing betref, het mnr. Magwala gesê dat die Raad reeds kyk na verskeie opsies ten opsigte van die opgradering van die voorsieningsnetwerk vanaf die Albasinidam. Alles hang egter af van die voltooiingsdatum van die Nandonidam. By voltooiing sal die Albasinidam se watervlak deur die Nandonidam aangevul word.
Mnr. Magwala het namens homself en die Raad verskoning aangebied vir enige ongerief wat as gevolg van die afgelope week se watervoorsieningsprobleme veroorsaak is. Hy sê hulle het dag en nag gewerk om die probleme spoedig uit te sorteer.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
