ADVERTISEMENT:

 

Staat weier om Ras te vervolg

 

News  Date: 04 March 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die Staat se saak teen bekende plaaslike besigheidsman, Ronnie Sutherland, het verlede week ‘n interessante wending geneem toe daar besluit is om alle klagte teen mede-aangeklaagde, Dawid Ras, terug te trek.

Ras is in September 2003 gearresteer op klagte dat hy omkoopgeld- en geskenke ontvang het in ruil vir die toekenning van lugmagkontrakte. As lid van LMB Makhado se aankope-afdeling was Ras onder meer verantwoordelik vir die inwin van kwotasies en die toeken van kontrakte.

Sutherland is in November 2003 gearresteer in verband met die saak teen Ras. Daar is beweer dat Ras vir Sutherland gehelp het met die leen van die lugmag se Komatsu-stootskraper, sonder die lugmag se wete. Die stootskraper is na bewering deur Sutherland aangewend vir die voltooiing van ‘n privaat kontrak vir die Tshikombani-tak van die ZZC-kerk ten bedrae van bykans ‘n halfmiljoen rand. Buiten vir dié beweerde onwettige transaksie, is daar ook ander klagte ondersoek wat spesifiek te doen het met lugmagkontrakte wat Sutherland vir die lugmag verrig het, veral met betrekking tot die instandhouding van hul masjinerie. Alhoewel Sutherland en Ras aanvanklik afsonderlik verskyn het, is hulle sake later saamgevoeg.

Op 13 Desember verlede jaar het die Staat beslag gelê op die bates van Sutherland en Ras. Lede van die Batebeslagleggingseenheid van Polokwane en die Georganiseerde Misdaadeenheid van Thohoyandou het toegeslaan by Sutherland se pragwoning op sy plaas Doornspruit op die Elim-pad. Daarna is daar na Lugmagbasis Makhado gereis waar daar op Ras se bates beslag gelê is. In totaal is daar op sowat R3 miljoen se bates op beslag gelê.

Verlede Woensdag is alle klagte teen Ras teruggetrek. Die hof het ook ‘n bevel gemaak dat die saak teen Ras slegs weer kan voortgaan indien die Direkteur Generaal Openbare Vervolgings persoonlik dit gelas.

Volgens Kern & Dekker Prokureurs, die firma wat namens Ras opgetree het in sy saak, het die plaaslike staatsaanklaers belas met die betrokke saak reeds geweier om verder te vervolg. Kern & Dekker Prokureurs het ook aangedui dat hulle reeds in die proses is om met die batebeslagleggingseenheid te onderhandel ten einde te versekerde dat die beslaglegging van hul kliënt se bates opgehef word en dat alle bates waarop beslag gelê is aan hom terugbesorg word.

“Ons het instruksie ontvang van mnr. Ras om die moontlikheid te ondersoek om aksie in te stel teen sekere individue en die betrokke staatsinstelling vir onder andere kwaadwillige vervolging, onregmatige aanhouding, naamskending en ander relevante remedies wat vir ons kliënt beskikbaar is,” lui ‘n verklaring van Kern & Dekker.

Intussen is die saak teen Sutherland oorgeplaas na die streekshof vir verhoor, vanweë die erns van die klagte. Sutherland staan tereg op klagte van bedrog, asook verskeie alternatiewe klagte. Sy saak kom einde April vanjaar weer voor.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines