

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 July 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Ongelukkigheid oor die mooimaak van grafte by die begraafplaas is aan die toeneem. ‘n Gesprek in die verband het op 27 Julie by die munisipaliteit plaasgevind.
Die ongelukkigheid broei al lank, omdat inwoners voel dat hulle behoeftes nie in ag geneem word nie. Hulle voel ook dat verskillende reëls vir verskillende mense geld, aangesien sommige nuwe grafstene opgerig is met ‘n soliede blad en kopstuk. Ander grafte is weer mooigemaak met blomme, plante en paaltjies.
Volgens mnr. Masindi Mapholi, Direkteur Tegniese Dienste van die Makhado Munisipaliteit, is die beleid by die begraafplaas dat nuwe grafte na ses maande platgestoot word en slegs gras daaroor geplant word om onderhoud te vergemaklik. Grafstene kan dan volgens sekere spesifikasies opgerig word. Soliede blaaie, sowel as tuintjies en paaltjies, is ‘n oortreding van die beleid. Mnr. Mapholi meen egter dat die saak baie sensitief is en dat verskillende kulture verskillende gewoontes het.
Mev. Elsie Brandt, wie se vader in die begraafplaas begrawe is, het opgelet dat daar nuwe grafstene is met soliede blaaie wat opgebou is met bakstene en sement. Mev. Brandt het afgelei dat dit een kultuur se gewoonte is.
“Wat word daar vir my kultuur toegelaat in die begraafplaas?” vra mev. Brandt. Sy het die behoefte uitgespreek om ‘n mooi tuintjie te mag maak by haar vader se graf.
“Ons kan nie ‘n kopstuk bekostig nie, maar ons is bereid om self gras te sny en ‘n tuintjie by ons vader se graf te versorg.”
Mnr. Mapholi het op 20 Julie gesê dat hy besig is om ‘n stuk voor te berei in verband met die begraafplaas wat sal dien op ‘n vergadering van die Uitvoerende Raad van die Munisipaliteit. Hulle sit gewoonlik tweeweekliks.
Mnr. Mapholi en mev. Brandt het Dinsdag in gesprek getree in verband met die behoeftes by die begraafplaas. Mev. Brandt het na afloop van die gesprek gesê dat sy tevrede voel dat die Direkteur verstaan waaroor sy ongelukkig is. Mev. Brandt sê dat hulle ooreengekom het oor die moontlikheid van ‘n langwerpige blombak op die sementstrook waar die kopstuk gewoonlik kom.
Mev. Brandt het ook die soliede sementblaaie by die nuwe grafte geopper en gesê dat sy daarvan sal hou as een reël vir alle kulture geld.
“Mnr. Mapholi het gesê dat hy nie voor die gesprek bewus was van die twee soliede blaaie by die nuwe grafte nie. Hy vra egter dat niemand nou hulle geld moet mors en enige iets by die grafte moet opsit nie, voor hy nie die saak met die Raad opgeneem het nie,” sê mev. Brandt.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
