

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 March 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die Makhado Munisipaliteit het ‘n voorstel aanvaar vir grootskaalse konstruksiewerk in die noordelike gedeelte van die dorp se Groengordel-area.
‘n Tender vir die verkoop en ontwikkeling van die hele gebied noord van Stubbsstraat en tussen Rivierstraat en die N1 is toegeken aan die onderneming Wadanga-I-Tole Entertainment Park (Pty) Ltd. Die oppervlakte van die betrokke area beslaan 53,5 hektaar. Die tenderbedrag beloop R15 300 000.
Die ontwikkelingspan bestaan uit direkteure dr. Ngwilimeni Aaron Funyufunu, Jerry Ndou, Shanti Dosa en Vino Ramjee.
Volgens die span se oorspronklike projekbeskrywing sluit sy ontwikkelingsplan op die area die volgende in: ‘n Hotel, vermaaklikheidsentrum, tradisionele dorpie, ‘n eko-park, mensgemaakte meer, ‘n kabelspoor na die piek van die Soutpansberg en ‘n vulstasie.
Die beoogde weelde hotel sal bestaan uit 150 kamers, moderne volledig toegeruste konferensiesentrum, a la carte restaurant, privaatkroeg, twee swembaddens, ‘n gesondheidsentrum, boetiek en dagsorgsentrum vir kinders.
Die beoogde vermaaklikheidsentrum bevat twee teaters met 100 sitplekke elk, twee swembaddens, twee kitskosrestaurante, ‘n arena vir videospeletjies en ‘n gesondheidsentrum met sauna, stoombad, oefenapparaat, tennis- en muurbalbane en parkeerplek vir 200 voertuie.
Die tradisionele dorpie sal ruimte bied vir plaaslike kulturele vermaak, tradisionele kosse en handwerk uitstallings.
In die eko-park sal verskillende voëlsoorte, klein soogdiere en wildsoorte, sowel as vlinders en slange besigtig kan word. Op die mensgemaakte meer sal onder meer kanosport bedryf kan word. Die kabelspoor sal vanaf die bergpiek tot by die meer lei.
Die projek word in sy geheel as ‘n swart bemagtigingsprojek beoog ten opsigte van die beplanning, bou en bedryf daarvan. Sterk klem word geplaas op die opleidingsaspek wat daarmee gepaard sal gaan.
Die betrokke gedeelte van die dorp se Groengordel-area is volgens die dokumentasie ‘n geproklameerde, maar ongedienste woongebied. Beplande ontwikkeling van ‘n woongebied in die gedeelte van die Groengordel is in 1998 laat vaar, weens sterk openbare besware.
Die nuwe ontwikkelingsvoorstel behels aansienlike afwykings van die oorspronklike goedgekeurde uitleg. Verskeie nuwe uitlegte en hersonerings sal genoodsaak word, voordat die voorgestelde projek kan voortgaan. Dit is tans gesoneer as Residensieel 1 en Openbare Oopruimtes. Die suksesvolle tenderaar sal die noodsaaklike hersonering moet hanteer. ‘n Omgewingsimpakstudie sal ook onderneem en goedgekeur moet word. Al hierdie dorpsbeplanningsprosesse sal vir die koste van die ontwikkelaar wees.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
