

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 March 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die plaaslike regering tree nie op in belang van die belastingbetalers en inwoners van Louis Trichardt nie. Besluite wat die inwoners en sakelui van die dorp raak, word gemaak deur raadslede wat nie in die dorp woon of belasting betaal nie. Die negatiewe gevolge van hul ondeurdagte optrede maak aan hulle geen verskil nie. Gesprekke wat die Sakekamer met die burgemeester en die uitvoerende komitee gevoer het, loop ook op niks uit nie.
Hierdie skerp teregwysing word vervat in die Soutpansberg Sakekamer se reaksie op die jongste gebeure in verband met die voorgestelde hersonering van die dorp se sportgronde vir die oprigting van ‘n omstrede winkelkompleks.
Die Sakekamer het gereageer na ‘n vergadering waarop besonderhede verstrek is in verband met die voorgestelde sloping en heroprigting van sportgeboue om plek te maak vir die ontwikkeling van ‘n winkelkompleks op die sportgronde langs die N1. Die hernieude poging tot hersonering van die sportgronde is aan die begin van die jaar in ‘n media advertensie aangekondig, nadat die burgemeester aan die einde van verlede jaar in ‘n spesiale ontmoeting met plaaslike belanghebbendes die indruk gelaat het dat die planne voorlopig laat vaar is, in die lig van positiewe besware.
Die Soutpansberg Sakekamer sê hy verteenwoordig die breër besigheidsgemeenskap en tree op om hul belang in die dorp te beskerm en die algemene belang van die hele gemeenskap te bevorder.
Die Sakekamer sê hy verwelkom positiewe ontwikkeling wat ook nuwe ondernemings na die dorp bring. Die plasing van die beoogde inkoopsentrum is egter rede tot ernstige kommer.
“Louis Trichardt beskik oor ‘n stabiele sentrale sakegebied en ons wil dit graag so hou. Die voorgestelde sake-ontwikkeling op die sportgronde sal na ons mening die besetting van sakepersele in die dorp nadelig beïnvloed. Ons het ernstige bedenkinge oor die stelling dat die ondernemings wat ruimte in die nuwe ontwikkeling bespreek het ‘n ander mark daar wil bedien en daarom nie hul persele in die sentrale sakegebied sal ontruim nie.
“Daardie mark is nie sterk genoeg om so ‘n gespesialiseerde afsetpunt te regverdig nie. Ons is daarvan oortuig dat sulke besighede gekonsolideer sal word met die verval van die bestaande huurooreenkomste in die Sentrale Sakegebied.
“Die argumente van die ontwikkelaar vir die behoefte aan so ‘n ontwikkeling sou geldig gewees het as daar ‘n groot invloei van inwoners na Louis Trichardt was. Dit is ongelukkig nie so nie. Die koopkrag vir Louis Trichardt neem eerder af as gevolg van die ontwikkeling van sakesentrums in die landelike gebiede om die dorp.
“Die motivering vir die behoefte aan so ‘n ontwikkeling sou geloofwaardig gewees het indien die ontwikkelaars nuwe huurders gelok het om die satelliet winkels te beset. Dit is egter nie die geval nie. Dit is meestal bestaande besighede in die dorp wat ruimte daar wil opneem.
“Ons kommer is dat daar nog meer leë persele in die Sentrale Sakegebied sal ontstaan wat moeilik gevul sal word, aangesien die ontwikkelaars nie eens met ‘n nuwe ontwikkeling daarin kon slaag om nuwe besighede na die dorp te lok nie. Die handelsbanke is besorg oor hul sekuriteite, sou die helfte van die Sentrale Sakegebied leegstaan.
“Die argument dat die beoogde ontwikkeling sal help om die koopkrag in die dorp te hou en die uitvloei van geld na ander dorpe te stuit, hou ook nie water nie, aangesien 70% van die beoogde nuwe sentrum se oppervlakte benut sal word deur nasionale kettinggroepe, wat in elk geval die geld uit die dorp uitneem.
“Aangesien die beoogde ontwikkeling ook bloot uit winkelruimte sal bestaan, sal inwoners in elk geval nog steeds na ander dorpe moet ry om teaters te gaan bywoon,” lui die Sakekamer se verklaring.
Die Sakekamer het ‘n ernstige beroep gedoen op Pick ‘n Pay, een van die ankerhuurders in die beoogde nuwe kompleks, om hom liewer in die sentrale sakegebied van die dorp te kom vestig – selfs al sou dit ‘n kleiner area beslaan.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
