

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 March 2005
MUSINA – Die kleurvolle geskiedenis van “Harry se Boom” is weer in herinnering geroep, na die voltooiing van ‘n amptelike gedenkteken by ‘n besonderse kremetartboom net suid van Musina langs die N1.
Die gedenkplaat op die geboude voetstuk langs die kremetartboom, waarna ook verwys word as die “Lê-boom,” dui aan dat Hermanus (Harry) Lodewikus Johannes Erasmus op 24 Mei 1952 onder die boom gebore is.
Die merkwaardige geskiedenis van die buitengewone gebeurtenis was vandeesweek aan die orde, toe Harry, nou 53 jaar oud, op Nylstroom opgespoor is.
Mnr. Erasmus se ouers, Dolf en Emma Erasmus, het indertyd op Mopane gewoon. Dolf was by die Provinsiale Administrasie in diens as teerwa-bestuurder in ‘n stadium toe die nasionale pad vanaf Naboomspruit deur Wyliespoort tot by Beitbrug vir die eerste keer geteer is.
“Daar was destyds net een myndokter op Messina. Toe Pa die dokter die aand kort voor my geboorte bel om te sê dit is nou sulke tyd, het die goeie dokter hom verseker daar is geen rede tot kommer nie. Dit was minstens twee weke te vroeg. Pa, Ma en Ouma het egter met die 1948 Ford na Messina gehaas, maar kon nie die dorp betyds haal nie. By die ou boom moes Pa vinnig afgedraai en stilhou en Ouma het toe maar die bevalling behartig,” vertel Harry.
Sedertdien het familie en vriende gereeld na die boom as “Harry se Boom” verwys. Die naam het al wyer uitgekring.
Die bekende kunsskilder, Frank May, wat ook in die omgewing gewoon het, het later jare ‘n skildery van die kremetartboom gemaak en aan Harry geskenk.
Die naam “Harry se Boom” het ook later ter sprake gekom tydens ‘n radioprogram en die boom is weens sy besonderse voorkoms en ouderdom as ‘n historiese gedenkwaardigheid verklaar.
Met die opgradering van die N1 was die boom een van die talle groot kremetartbome wat op kundige wyse bewaar moes word tydens die padbouwerk. Na samesprekings met die Nasionale Padagentskap is besluit om ‘n gedenkteken by die historiese boom op te rig. Die padagentskap het aangebied om die voetstuk op te rig, terwyl mnr. Erasmus die gedenkplaat verskaf het.
Harry se ouers het later lank op Louis Trichardt gewoon, voordat hulle na Dendron en Pietersburg getrek het. Hulle is vyf jaar gelede, op pad terug na ‘n begrafnis, in ‘n motorongeluk op die N1 oorlede.
Harry het op Dendron grootgeword en by Hoërskool Tom Naudé in Polokwane skool gegaan. Hy woon tans op Nylstroom. Hy is getroud en het drie kinders – twee getroude dogters en ‘n seun – Harry junior - wat ‘n teologiese student is.
Benewens die gedenkteken wat onlangs voltooi is, sal padwysers ook eersdaags aangebring word om besoekers die weg te wys na dié gewilde stilhouplek by “Harry se Boom”.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
