

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 March 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - ‘n Bitter droë Februarie en Maart sover laat kommer ontstaan oor wat die res van die seisoen vir die landbou inhou.
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU-SA Noordstreek, sê dat daar tekens is van waterbronne wat begin opdroog. In gesprekke met boere blyk dit dat boorgate ook begin ingee. Dit geld ook vir die subtropiese dele bo-op die Soutpansberg, Piesanghoek en Levubu. Hierdie gebiede is bekend vir hul “groen droogte” waar die veld op die oog af mooi lyk.
“Levubu is egter swak af met reën. Daar het net 40% van die normale reënval geval,” het mnr. Joubert Maandag gesê.
Die statistieke van die Suid-Afrikaanse Weerkantoor in Pretoria bevestig hierdie afname. Levubu het in Januarie en Februarie verlede jaar onderskeidelik 139.2mm en 191.9mm reën gemeet, terwyl vanjaar se eerste twee maande sleg afsteek met 80.9mm en 33.4 mm.
Statistieke ontvang van mnr. André Kruger van Shefeera Saagmeule toon die maandelikse reënval vir die laaste 28 jaar met gemiddeldes vir elke maand bereken oor 28 jaar. Na Shefeera se bogemiddelde reënval 632.5mm in Februarie 2004, is daar tot nou toe nog elke maand behalwe Desember ‘n ondergemiddelde reënval aangeteken. November 2004 was die verste ondergemiddeld, aangesien net 32.9mm reën geval het teenoor ‘n November-gemiddeld van 179.2mm. Desember 2004 en Januarie 2005 se reënval was ‘n verblydende 184.3mm en 181mm onderskeidelik. Desember se reën was net-net bogemiddeld en Januarie 2005 se reën was 28 mm onder die gemiddeld.
Die subtropiese boere se vrugte is in die algemeen klein en markverwante onsekerhede teister die boere, deurdat die pryse van uitvoerprodukte beïnvloed word deur die onseker wisselkoers.
By die ekstensiewe weidingsgedeelte aan die suidekant van berg, soos Elim, Bandelierkop en Mara, is daar dele wat baie swak is.
“Daar is nie ‘n sterk blaarkomponent soos noord van die Soutpansberg nie,” sê mnr. Joubert.
‘n Verstommende tendens is egter dat geisoleerde dele reën gekry het, terwyl ander swak neerslae ontvang het. Daar is goeie en slegte kolle. So byvoorbeeld wys die weerkantoor se statistieke dat Soekmekaar se reënval van 131.1mm vir Januarie vanjaar baie hoër is as Januarie 2004 se 56.5mm. In Februarie het daar 68mm reën by Soekmekaar geval, die hoogste reënval vir al die omliggende stasies. ‘n Lekker reënbui van 59mm is op 23 Februarie daar gemeet.
Buiten Soekmekaar, was Februarie se reënval hierdie jaar oor die res van die streek uiters swak in ooreenstemming met verlede jaar dieselfde periode. Pontdrift het in Februarie 1mm gemeet teenoor Februarie 2004 se 49mm. Thohoyandou het 9,6mm gemeet teenoor 103mm in Februarie 2004. Die Messina Macuville reënstasie het in Februarie 14.5mm gemeet teenoor die 61,2mm van Februarie 2004. Op Tshipise, Waterpoort en Mara is daar in Februarie onderskeidelik 21,6mm, 27,4mm en 31,1mm gemeet teenoor Februarie 2004 se reënval van onderskeidelik 26mm, 147,8mm en 134,8mm. Levubu se reënval van 33,4mm vir Februarie is ver minder as die 191,9mm van dieselfde periode verlede jaar, terwyl Louis Trichardt se 58,3mm ook minder is as die 70,8mm in Februarie 2004.
“As dit nie gou reën nie, gaan ons bitter swaar kry en met ‘n lang winter stoei,” sê mnr. Gideon Meiring, voorsitter van die Soutpansberg DLU.
Noord van die Soutpansberg reën dit ook kol-kol.
“Dit het nou kort liggies gereën op Tshipise. Bokmakierie en ander dele is egter baie droog. Die beesplase benodig gras en die beesboere sal moet plan maak; hoe, weet ons nog nie,” het mnr. Meiring vandeesweek gesê. Daar is tans ook ‘n ooraanbod van beeste, met gevolglike swak pryse, behalwe vir die jong diere. Mnr. Meiring verwag dat dit die einde van Maart sal reën.
Sommige wildboere het al lankal voer aangekoop en ander sal eersdaags moet begin aankoop. Wildboere bied alreeds vroeg in die jaar spesiale pakkette aan.
“Ons is al klaar in die herfs in. Sou dit reën, sou die veld nie betyds herstel nie,” sê mnr. Joubert. Joubert het egter gesê dat die groenteboere noord van die Soutpansberg, die winterprodusente, na goeie pryse kyk.
Saam met die min reën in die streek is daar die hoë temperature. Thohoyandou het ‘n baie warm Februarie beleef. Volgens die weerkantoor was die gemiddelde maksimumtemperature vir Februarie selfs hoër as vir Januarie.
Die warmste dae hierdie jaar op Musina sover was die vier dae van 13 tot 16 Januarie toe die kwik telkens bo 40°C gestyg het. Op 15 Januarie was die maksimum temperatuur 42,1°C met ‘n gemiddelde temperatuur vir Januarie van 36.6°C. In Januarie 2004 was die gemiddelde temperatuur effens laer, op 35.5°C. Die temperature vir Februarie vir Musina was nog nie beskikbaar by die weerkantoor nie.
Damvlakke daal ook deurlopend te midde van die warm en droë weer.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
