

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 March 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Juline du Preez het met drie toekennings weggestap by die Mevrou Suid-Afrika 2005 kompetisie.
Juline het onder die top 10 finaliste geëindig en is gekies as Mevrou Suid-Afrika Fiksheid. Sy is ook aangewys as die amptelike verteenwoordiger van Mev. SA in Limpopo.
“Dit was ‘n fantastiese ondervinding om deel te wees van so ‘n suksesvolle, strawwe, maar regverdige kompetisie met die hoogste standaard denkbaar. Dit het my horisonne verbreed. Die 38 finaliste was almal stylvol, gesofistikeerd en suksesvolle sakevroue. Ek sal die kompetisie aanbeveel vir enige vrou wat positiewe waarde aan haar lewe wil toevoeg,” sê Juline.
“Die motiveringsprekers soos Cecile Gericke en Ivy Sutten het ons opgebou en geïnspireer.”
Die skoonheidskompetisie het geduur van 1 tot 4 Maart by die St George Hotel in Irene, Pretoria. Die onderhoude was baie intensief en is deur 12 beoordelaars waargeneem.
Van die kroningsaand sê Juline: “Om deel te wees van die top 10 finaliste, was ‘n wonderlike belewenis. Dit was ook heerlik toe Jacques Terblanche my as Mev. S.A. Fiksheid saam met die ander kategoriewenners toegesing het. Hy het ook die streekswenners toegesing toe ek op die verhoog was as Limpopo wenner.” Die heel beste ondervinding beskryf Juline egter as die voorreg om vier dae saam met beroemde verhoogkoördineerder Willie Venter te kon werk.
Wat haar fiksheidstitel betref, vertel Juline dat hulle letterlik vir twee ure lank getoets is vir fiksheid.
“En daar wen ek toe die kompetisie. Dit is te danke aan my perdry en my oefensessies tuis met selfgemaakte apparaat,” lag Juline.
As Mevrou Limpopo moet Juline alle amptelike pligte namens Mev. Suid-Afrika in Limpopo behartig, wanneer Mev. SA, Mariette Chipendall van Pretoria, nie daarby kan uitkom nie. Die eerste en tweede prinsesse, Corné Marie Schoonraad en Wendy Walker, is ook van Pretoria. Mev. Suid-Afrika moet bykans elke naweek amptelike pligte in Pretoria en omgewing nakom.
As top 10 Mevrou Suid-Afrika finalis het Juline ‘n modelkursus by Susca Watts gewen, asook haarprodukte, gesigprodukte en –behandeling, liggaamsbehandeling, parfuum, die top 10 serp en ‘n trofee. Vir die Mev. SA Fiksheid-titel ontvang sy ‘n serp en ‘n trofee en vir die Mevrou Limpopo-titel ‘n serp.
Die finaliste het R1 miljoen ingesamel waarvan 20% aan welsynsorganisasies oorbetaal word. “Ek is bly my naam kan gekoppel word aan ‘n kompetisie met so ‘n hoë standaard,” sê Juline.
Die inskrywingsvorms vir Mev. SA 2006 sal spoedig by haar beskikbaar wees. Juline gaan self nie weer inskryf nie. Die huidige Mev. SA het drie keer ingeskryf.
“Dit was ‘n belewenis, maar dis in my geaardheid om ‘n saak aan te pak en dit dan af te handel. Ek sal nie ‘n tweede keer inskryf nie, alhoewel ek nou al die fynere puntjies verstaan wat ‘n mens nie met die eerste rondte geweet het nie.”
Limpopo dames wat vir die 2006 kompetisie wil inskryf, sal kan baat by die ondervinding wat Juline opgedoen het. Juline hoop dat baie dames van Limpopo sal inskryf, want sy glo dat daar baie suksesvolle, stylvolle dames in Limpopo is.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
