ADVERTISEMENT:

 

Knopvelsiekte breek op Musina uit

 

News  Date: 11 March 2005

 

MUSINA – Gevalle van knopvelsiekte onder beeste is gerapporteer vanaf enkele plase in die Musina- en Linton-omgewing.

Knopvelsiekte is ‘n virussiekte van beeste met die volgende simptome, naamlik koors, verminderde aptyt, slymerige neusuitloopsel, oormatige kwyl en die verskyning van ‘n paar tot honderde opgehewe knoppe op die vel (5mm tot 50mm in deursnit).

Die knoppe kan of verdwyn of afskilfer en diep, rou, etterige sere in die vel laat wat lank neem om te herstel. Rou sere kan ook op die neus, bekslymvlies, dermkanaal, asemhalingstelsel en geslagsdele voorkom. Onderhuidse swelling van die ledemate kom dikwels voor en kan met slangbyt verwar word. Alhoewel verliese weens vrektes redelik laag is, veroorsaak dit aansienlike ekonomiese verliese weens vermaering, tydelike of selfs permanente verlies in melkproduksie (as gevolg van mastitis), onvrugbaarheid by bulle en beskadiging van die huid.

“Volgens alle aanduidings speel bytende insekte ‘n groot rol in die verspreiding van die siekte wat tradisioneel veral in die laat somer en herfs voorkom. Hoewel die siekte meestal sporadies voorkom, kan dit soos in 1989 tot 1990 vinnig versprei en epidemiese afmetings aanneem. Noue kontak tussen diere deur middel van gesamentlike drink- en kosbakke speel ‘n groot rol in die verspreiding van die siekte in ‘n beeskudde,” sê dr. Piet Loock (Veterinêre Volksgesondheid en Laboratoriumdienste van die Departement Landbou in Limpopo).

Boere in die gebied word ernstig aangeraai om hulle diere so spoedig moontlik te ent ten einde onnodige verliese te voorkom.

Kalwers van geënte koeie is beskerm deur ‘n passiewe immuniteit wat deur die biesmelk verkry is en kan eers suksesvol na ses maande ouderdom geënt word. Kalwers van ongeënte koeie kan op enige ouderdom geënt word.

Die entstof is heeltemal veilig en kan in dragtige koeie gebruik word. Die enting van lakterende koeie kan lei tot ‘n tydelike val in die melkproduksie. Geënte diere moet nie binne sewe dae na enting vir menslike gebruik geslag word nie. Alhoewel die entstof baie effektief is, word ‘n jaarlikse skraagdosis aanbeveel. Entstof kan vanaf ‘n veearts, koöperasie of direk vanaf die Onderstepoort entstoffabriek bekom word.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines