

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 March 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT)– ‘n Skielike uitbraak van maagaandoenings in die dorp het die afgelope week vrese laat ontstaan dat ‘n probleem met die dorp se drinkwater dalk die oorsaak hiervan kan wees.
Volgens beskikbare inligting het plaaslike medici die afgelope twee weke reeds meer as 200 inwoners vir maagaandoenings behandel. Dit volg kort op die hakke van die dorp se onlangse waterkrisis, toe reservoirs leeggeloop het en dele van die dorp vir dae lank sonder water was. Inwoners sê dit is vreemd dat die probleem ontstaan het, kort nadat die watervoorsiening weer herstel is.
In al die gevalle blyk die simptome dieselfde te wees, insluitend maagpyn en -krampe, naarheid, ligte koors en hoofpyn. Die vermoede bestaan dat dit moontlik Epidemic Enteritis kan wees, wat hoofsaaklik in dorpsgebiede voorkom tydens periodes van hoë temperature. Vullis blyk ‘n gewilde broeiplek vir dié siektetoestand te wees, wat die belangrikheid van gereelde vullisverwydering beklemtoon. Die voortslepende probleem van rou riool wat telkens in die dorp by mangate uitborrel as gevolg van ‘n ondoeltreffende rioolstelsel, is ook rede tot groot kommer. Laasgenoemde is veral duidelik sigbaar in Malherbestraat, skaars ‘n paar meter weg vanaf die slagpale.
In hierdie stadium is daar baie bespiegelinge oor wat presies die siektetoestand veroorsaak, alhoewel niemand ‘n definitiewe uitspraak wil waag nie. Teen druktyd was dit ook nog nie seker of dit ‘n virus of bakterie is wat die ongesteldheid veroorsaak nie. Daar is ook diegene wat inwoners gewaarsku het om nie goedsmoeds te aanvaar dit is ‘n probleem met die water nie. Volgens inligting is die Makhado Munisipaliteit, in samewerking met die provinsiale Departement van Gesondheid, besig met intensiewe toetse en die neem van monsters, nie net ten opsigte van water nie, maar ook ten opsigte van voedsel en stoelgang. Dit is in hierdie stadium ook nie seker hoe primêre infeksie plaasvind nie, maar vlieë kan klaarblyklik ‘n rol speel.
Intussen reageer pasiënte vinnig op behandeling, alhoewel daar ‘n paar uitsonderlike gevalle was waar persone in die hospitaal geëindig het. Dit wil ook voorkom asof die uitbraak tans tot die dorp gelokaliseer is.
Mnr. Lampie Schoeman van die munisipaliteit se Gesondheidsafdeling het Woensdag bevestig dat hulle tans die uitbraak in samewerking met die betrokke provinsiale departement ondersoek. Tog sê hy is dit moeilik om die omvang van die probleem te bepaal, aangesien hulle in baie gevalle op hoorsê moet werk. Mnr. Schoeman is egter daarvan oortuig dat die probleem nié deur die dorp se drinkwater veroorsaak word nie. Hy sê dat laboratoriumtoetse wys dat daar niks met die water verkeerd is nie.
Alhoewel die probleem nie die drinkwater blyk te wees nie, is daar ook by mnr. Schoeman onduidelikheid oor wat die probleem veroorsaak. Hy skakel ook nie die moontlikheid van Epidemic Enteritis uit nie, veral ten opsigte van persoonlike higiëne.
“Ek kan wraggies nie sê wat die probleem is nie, maar kyk na jou persoonlik higiëne. Min mense besef hoe belangrik dit is om gereeld jou hande te vas, veral na die gebruik van ‘n toilet,” sê mnr. Schoeman. Hy het inwoners uitgenooi om hulle dadelik te skakel indien hulle probleme van hierdie aard ondervind.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
