ADVERTISEMENT:

 

Alle “grille” op ‘n stokkie … Peetma Marietjie Barkhuizen het behoorlik haar hande vol met die 19 klein Amerikaanse Koringslangetjies. Hulle soek tans haastig huise vir die gediertes. Inlas: Die trotse pa en ma slang het darem lank genoeg stilgehou sodat hulle met die kamera geblits kon word.

"Ma sal maar moet sorg"

 

News  Date: 25 March 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Marietjie en Kobus Barkhuizen het begin Maart die trotse peetouers geword van 19 pragtige kriewelrige Amerikaanse Koringslangetjies.

Ma Marietjie vertel dat haar seun, klein Kobus, in November verlede jaar met die koringslang-paartjie by die huis opgedaag het, met die nuus dat ma-slang dalk gaan eiers lê. Die blye dag het op 13 Desember aangebreek met 19 klein wit eiertjies wat die Barkhuizens begroet het.

Aanvanklik was die idee dat klein Kobus op die dorp sou agterbly om te werk, maar soos die beplanning dit wou hê moes hy begin Januarie inderhaas terug Universiteit toe in Bloemfontein. In die harwar en haas om te pak was daar op die ou end nie plek vir die slanghokke in die kar nie en eindelaas was dit ‘n kwessie van “Ma sal maar moet sorg”.

“Vir 76 dae het ek die eiertjies daagliks drie keer met ‘n spuitbottel nat gespuit,” vertel Marietjie. Dit was om te verhoed dat die eiertjies uitdroog, aangesien die doppe baie sag is. Ma en pa slang is ook van die eiertjies geskei uit vrees dat hulle dalk die eiers kon beskadig. Hulle moes op ‘n afstand kyk hoe die eerste van hul kroos van 19 op 1 Maart uitbroei. Elkeen van die klein glibberige nuwelinge word gebore met een tand waarmee hulle van binne hul eierdop oopknaag.

Marietjie vertel dat die slange eers in die sitkamer was, maar met al die gekap en bouwerk by hul huis is die slange slaapkamer toe geskuif.

“Die slange in die slaapkamer was nie so erg nie, behalwe as jy moet opstaan in die aand en die twee slangkoppies volg jou elke beweging so aandagtig. Dit is nogal ‘n onaardige gevoel,” sê Marietjie. In dieselfde asem noem sy dat peetpa Kobus nie so beïndruk is met die idee van slange in die huis nie. Hy het dit blykbaar duidelik gestel wat met die slange gaan gebeur as een uit die hok sal kom. Tog haal Marietjie hulle gereeld uit die hok om bietjie buite rond te seil en hul “besigheid” te doen.

Hok skoon maak is nie ‘n probleem nie, maar die slange se dieet is ‘n ander storie …

“Die grotes eet lewendige muise. Aangesien hulle familie is van die luislang, vang en druk hulle die prooi dood waarna hulle dit insluk,” sê Marietjie. Die klein slangetjies se dieet is meer verfyn. Hulle eet net klein pasgebore muise of rotte. Gelukkig het die Barkhuizens ‘n goeie kontak met ‘n muisboer op Levubu wat die slange van ‘n gereelde maaltyd voorsien.

“Hulle is goeie troeteldiere en niemand ongewens kom by die huis in nie,” sê Marietjie. Sy wys na die bordjie in die vensterbank wat met groot letters sê dat hulle huis deur slange opgepas word. Selfs hul huishulp verwys na die slange is hul “security.”

Maar wat nou van al die slange? Volgens Marietjie is hulle reeds in gesprek met die slangpark in Polokwane oor die moontlike koop van die kleintjies. Andersins sal hulle dit sommer hier uit die hand uit verkoop. Die grotes gaan weer terug na klein Kobus toe.

“Maar ek is nog nie verlos van die slange nie. Klein Kobus het mos vir sy sussie, Carin, ‘n slangetjie persent gegee vir haar tiende verjaarsdag op 20 Maart,” sê Marietjie. ‘n Mens wonder of ma maar gaan aanhou sorg …

Persone wat graag meer wil weet oor die slangetjies of dalk belangstel om een as troeteldier aan te skaf, kan vir peetma Marietjie skakel by tel. 082 326 7686.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines