ADVERTISEMENT:

 

Ma Heidi en pa Koos met ‘n woelige klein Sonita.

Maaggogga maak vir baba baie siek

 

News  Date: 25 March 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Daar is ‘n breë glimlag op die Alberts-ouerpaar se gesigte en tussen die twee van hulle sukkel hulle om die woelige klein Sonita sover te kry om stil te sit vir ‘n foto.

Ja, hulle is bly, want hulle ses-maande-oue dogtertjie is besig om te herstel, nadat sy dodelik siek geword het van ‘n vreemde maaggogga wat die afgelope maand die rondte in Louis Trichardt gedoen het.

Ma Heidi vertel dat klein Sonita op 12 Maart skielik siek geword het. Dit was ‘n Saterdag. Die kleinding het begin opbring en haar magie het gewerk. Dadelik het die ouerpaar begin vloeistof gee om te verhoed dat hul kleinding dehidreer. Niks het egter gehelp nie en teen sononder die volgende dag was klein Sonita se koors 40,5Cº.

“Toe ons Maandag by die privaatkliniek aankom het sy soos ‘n bleek apie aan my gehang,” sê Heidi. Sy sê sy het eerlikwaar gedink haar dogtertjie gaan dit nie maak nie.

Die egpaar se huisdokter het dadelik vir klein Sonita op ‘n drip gesit. ‘n Stoelgang-monster is geneem en weggestuur vir ontleding.

Teen Woensdag daardie week is daar vasgestel dat klein Sonita salmonella enterica opgedoen het, ‘n bakteriële infeksie. Sy is dadelik met antibiotika begin behandel en klein Sonita het begin herstel. Ma Heidi en pa Koos het egter besluit om maar net vir veiligheid ‘n draai te maak by ‘n pediater in Polokwane. Dit is hier wat hulle meegedeel is dat klein Sonita die infeksie kon opdoen deur melk of deur water.

“Ek borsvoed, so mens moet maar twee en twee bymekaar sit,” sê Heidi.

Die Alberts-gesin, soos baie ander wat die maagaandoening opgedoen het, glo steeds dat die dorp se drinkwater iets met die maaggogga te doen het. Talle sê hulle is daarvan oortuig dat rioolwater op een of ander manier in die drinkwater beland het.

‘n Basiese beskrywing van salmonella is dat dit ‘n tipe bakterie is wat veral in eiers voorkom en ‘n mens baie siek kan maak. Die simptome (onder meer naarheid, maagpyn en -krampe, ligte koors en diarree) is veral erg by babas en jong kinders. Wilde diere en troeteldiere kan draers wees van die bakterie en in uitsonderlike gevalle ook mense. Hoenderkuikens, eendjies en skilpaaie is veral in dié opsig gevaarlik vir kinders as troeteldiere. Daar was egter al gevalle gewees waar fekale (menslike en dierlike uitwerpsel) kontaminasie van onbehandelde drinkwater voorgekom het.

Dit moet egter duidelik gestel word dat daar nog geen bewyse gevind kon word dat die dorp se drinkwater verantwoordelik was vir die uitbraak nie. Toetse gaan egter steeds voort. ‘n Tweede stoelgang-monster van ‘n ander slagoffer is intussen weggestuur laboratorium toe vir ontleding, maar teen druktyd was die uitslag hiervan nog nie beskikbaar nie.

Intussen het gesondheidsorgamptenare die belangrikheid van ‘n gereelde handewas beklemtoon, veral nadat ‘n toilet besoek is. Ander wenke om moontlike infeksie te voorkom, sluit onder meer in om rou eiers te vermy soos wat gebruik word in tuisgemaakte roomys; die gebruik van vuil of gekraakte eiers te vermy; kos deeglik te kook; om slegs gebruik te maak van gepasteuriseerde melk- en eierprodukte; en om voorafgekookte kos in klein eerder as groot hoeveelhede te bevries.

Dit wil voorkom of die uitbraak van maagaandoenings onder beheer gebring is. Intussen krap provinsiale en plaaslike gesondheidsbeamptes steeds kop oor wat presies die uitbraak veroorsaak het.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines