ADVERTISEMENT:

 

Thys Beukes, Richard Benson en Hester Beukes.

Oud-bendeleier verkondig 'n ander evangelie

 

News  Date: 25 March 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Op 2 Maart is Richard Benson (31) hier deur die hof onskuldig bevind op ‘n klag van moord.

Die saak het voortgespruit uit ‘n geveg by Altra Kafee in September 1999.

“Ten tye van die moord was ek reeds in die selle in aanhouding vir dronkenskap,” sê Richard. Hy was voorheen ‘n bendeleier op die Kaapse vlakte en sy kriminele rekord het teen hom getel.

“Nou is ‘n hoofstuk in my lewe afgehandel. Noudat daar nie meer ‘n swaard oor my kop hang nie, kan ek voltyds vir die Here gaan werk sonder om heeltyd te dink dat daar nog ‘n hofsaak is wat nie afgehandel is nie,” het Richard op Sondag, 20 Maart gesê.

Richard is baie bly vir die vyf jaar wat hy aan en af in Louis Trichardt was. In die tronk het iemand met hom gepraat oor Jesus.

“Daar is die saadjie geplant. Terwyl ek op borgtog uit was, het ek op 6 Januarie 2001 vir Hester Beukes by die CMR ontmoet,” sê Richard.

Hester vertel verder: “Die jongman het vir my gesê dat hy drie dinge wil hê. Ek het gesê ek weet - kos, geld en ‘n treinkaartjie. Hy het my egter verras met sy antwoord. Hy het gesê hy wil bekeer wees, gedoop wees en gevul word met die Heilige Gees.”

“Daardie dag het ek die Here aangeneem,” gaan Richard voort.

“Op 18 Februarie 2001 is ek gedoop. Vanaf 1 tot 21 Maart 2001 het ek toesig gehou by ‘n interkerklike gebedshuis in Burgerstraat. In daardie tyd het die Here my gevul met sy Heilige Gees. Ek is ook totaal verlos van alle verslawing aan dwelms, dagga, alkohol en nikotien,” sê Richard, wat al op sesjarige ouderdom begin rook het.

Intussen is die moordsaak teen Richard heropen.

“Ek het nie weer vir die tronk kans gesien waar niemand Afrikaans praat nie en het na die Kaap toe gevlug,” sê Richard.

In die Kaap het Richard onder die bendes die evangelie begin verkondig. Daagliks het mense tot bekering gekom en baie mense is genees. Richard het egter besef dat hy eers met sy verlede sou moes deel. Hy het homself gaan oorgee aan die polisie.

Richard het weer vier maande in die gevangenis op Louis Trichardt deurgebring. In Augustus 2004 is hy op borgtog vrygelaat. Oral in die dorp en op Buysdorp het hy mense bedien met die gawes wat hy van die Here ontvang het.

Gedurende Desember was hy weer in die Kaap. Van die bendeleiers het hom aangerand en sy sleutelbeen gebreek.

“Die Here het my egter wonderbaarlik genees. Natuurlik het ek so met my Here gebrag dat 23 bendelede tot bekering gekom het insluitend die twee wat my aangerand het!” vertel Richard.

Richard vertrek eersdaags terug na die Kaapse vlakte omdat hy glo dat die Here hom roep om voltyds onder die bendes te werk.

Richard groet Louis Trichardt se mense: “Louis Trichardt het ‘n spesiale plek in my hart. Ek glo 2005 is die jaar waarin mense regtig die Here se teenwoordigheid in Louis Trichardt gaan begin voel. Onthou die Paasgebeure: Jesus wat geen sondes gehad het nie, het ons almal se sondes op hom geneem en dit moontlik gemaak dat ons toegang tot die Vader kan kry.”

Richard Benson spreek sy dank uit teenoor Thys en Hester Beukes wat hom in hulle huis ingeneem het: “Dit is die wonderlikste familie: hulle is my Trichardt Pa en Ma.”

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines