

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 March 2005
POLOKWANE – Die Suid-Afrikaanse regering behoort weg te doen met die rassistiese grondslag van sy landbouwetgewing en homself te beywer vir die bemagtiging van almal wat burgers is van Suid-Afrika.
Die voorsitter van die TLU-Noordstreek, mnr. Dries Joubert, het ‘n dringende beroep op die regering gedoen om die rassistiese grondslag van die Agri-SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging) wetgewing te heroorweeg. Die wetgewing word beskryf as sosialisties en polities gedrewe.
In ‘n mediavrystelling sê mnr. Joubert die TLU ondersteun die bemagtiging van alle burgers van Suid-Afrika. Veral in die lig van die selektiewe selfverryking en korrupsie wat uit SEB spruit, behoort ras as seleksiekriterium vermy te word.
Mnr. Joubert sê die TLU-SA ondersteun landboubeleid wat gegrond is op gesonde ekonomiese beginsels terwille van volgehoue en groeiende produksie van voedsel en vesel. Die uitgangspunt is derhalwe gegrond op die ekonomiese volhoubaarheid van kommersiële landbou. ‘n Gesonde wisselwerking tussen die Staat en kommersiële landbou vir ‘n gekoördineerde nasionale landboubeleid sal onder andere aspekte soos in- en uitvoerbeleid, tariefisering, fitosanitêre maatreëls, navorsing, opleiding, voorligting en beskerming van die bodem en hulpbronne insluit.
“Die staat se ‘Broad Based Black Economic Empowerment’ is die wetlike magtiging van die Staat om met die transformasieproses ekonomiese herstrukturering te pleeg. ‘Black’ word as anti-wit gedefinieer en is sodoende rassisties van aard en het ten doel om met uiteenlopende strategieë swart mense wetlik te bevoordeel.
“Die TLU-SA se uitgangspunt is die volhoubaarheid en produktiwiteit van kommersiële landbou deur die landbouer op die grond te hou en sy mededingendheid te verseker.
“Toegang tot die landbousektor en tot landbougrond kan alleen verseker word deur die bestaande markkragte en die beginsel van vrywillige verkoper en vrywillige koper. Die volhoubaarheid van ‘n hoë-risiko bedryf het nie met die toevloei van getalle swartmense te make of die oordra van vaardighede nie, maar met die volgehoue bestuur van ‘n hoë tegnologie- en inligting-gedrewe bedryf. Alleen op grond hiervan kan landbougrond konstruktief ontwikkel word. Alleen wanneer daar sekuriteit in die kommersiële landou sektor rondom private eiendomsbesit is, sal beleggersvertroue verseker kan word.
“Landbouproduksie word deur ekonomiese faktore van vraag en aanbod, sowel as die klimatologiese element, bepaal. Die behoud van produktiwiteit en mededingendheid is alleen moontlik indien kommersiële landbou se produksievermoë in ‘n konstante groei behou kan word om voedsel sekerheid te verseker en internasionaal mededingend te bly. Deur produktiwiteit en mededingendheid word die voortbestaan van kommersiële landbou verseker.”
Luidens die verklaring is kommersiële landbou ‘n hulpbron wat volhoubaar bestuur moet word. ‘n Hoë-risiko bedryf se volhoubaarheid word bepaal deur die kundigheid in die bedryf en die toegewyde landbouer op die grond. Die volhoubaarheid van landbou as hulpbron word bepaal deur die toewyding en karakter van die kommersiële landbouer en nie deur die bestaansboerdery of kommunale boerdery benadering nie.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
