

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 April 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Stakende vakbondlede het verlede Donderdag dienslewering by die Makhado Munisipaliteit tot stilstand gebring uit protes dat hul maandelikse salarisse weereens nie betyds inbetaal is nie.
SAMWU- en IMATU-lede het Donderdag saam hul misnoeë te kenne gegee oor wat hulle beskou as absolute nalatigheid, pligsversuim en swak dienslewering aan die kant van munisipale amptenare. Die Raad se waarnemende Direkteur van Finansies, mnr. Thomas Nephawe, het direk onder die spervuur gekom.
Die Raad se probleme met die betaling van salarisse het in September verlede jaar begin. Toe was daar regtig nie geld nie en daar is bespiegel dat die Raad op die rand van bankrotskap staan. Die Raad se finansies het egter sedertdien goed herstel.
In Februarie vanjaar is beamptes se salarisse laat in betaal. Die rede wat toe hiervoor aangevoer is, was klaarblyklik ‘n probleem met die elektroniese betalingstelsel. Die Raad, asook mnr. Nephawe, het egter onderneem dat so iets nie weer sal gebeur nie.
Verlede Donderdag het “so iets” weer gebeur. Oor die 800 munisipale werkers het met groot verwagting met leë hande die feestelike langnaweek tegemoetgegaan, omdat hul salarisse weer nie inbetaal is nie. Senior bestuur het haastig rondgeskarrel, maar kon slegs toesien dat sekere amptenare die betrokke dag betaling ontvang. Reeds vroeg die oggend het SAMWU-lede voorgestel dat hulle per tjek betaal moet word. Teen R12 per tjek hanteringsfooi by die bank sou die idee die Raad sowat R11 000 uit die sak jaag. Gelukkig is daar van dié idee afgesien.
Weer moes mnr. Nephawe kom verduidelik wat verkeerd gegaan het en weer het hy die stelsel, die keer met ‘n nuwe naam, blameer. Dit het dus as geen verassing gekom dat vakbondlede gevra het vir sy onmiddellike skorsing nie.
“’n Persoon se salaris is nie ‘n voorreg nie, dit is ‘n reg!” het ‘n ontstoke mnr. James Sikhwari (SAMWU-takbestuurder) opgemerk. Hy het bygevoeg dat hulle graag die publiek se respek wil wen, maar as hulle elke keer moet staak omdat hulle nie betaal word nie, kan dit nie gebeur nie. Mnr. Sikhwari het ook gesê dat plaaslike besighede duisende rande verloor het, omdat munisipale werkers nie geld gekry het om te spandeer voor die langnaweek nie.
Na ure van onderhandeling is die skare vakbondwerkers uitmekaar. Die Raad se Munisipale Bestuurder, me. Faith Muthambi, het onder meer opgemerk dat Donderdag se protesaksie ‘n baie duidelike boodskap gestuur het. In so ‘n mate dat mnr. Nephawe dieselfde dag met volle betaling uit sy amp geskors is vir nalatigheid en swak dienslewering.
Mnr. Sikhwari het Dinsdag gesê dat hy die Raad se besluit ten opsigte van die skorsing ondersteun.
“Al wat ons vra is dat die regte persoon op die regte tyd in die regte pos aangestel word,” sê mnr. Sikhwari. Intussen, sê hy, werk hulle aan ‘n strategie om die agterstand wat as gevolg van die staking veroorsaak is, uit te wis.
Die Raad se Direkteur van Korporatiewe Dienste, mnr. Peter Magwala, het Woensdag gesê dat mnr. Nephawe kans gegee sal word om sy saak te stel. In dieselfde asem het hy gesê dat mnr. Nephawe as onskuldig geag sal word, totdat daar anders bewys kan word.
Intussen het me. Muthambi weer verskoning aangebied vir inwoners se ongerief as gevolg van die voorval.
“Ons wil graag verskoning vra vir die ontwrigting van lewering van munisipale dienste op 24 Maart wat teweeg gebring is as gevolg van onverwagte omstandighede. Tot ons spyt was verbruikers nie in staat om elektrisiteit te koop of vir dienste te betaal nie as gevolg van genoemde ontwrigting. Weereens bied ons onvoorwaardelik verskoning aan,” skryf sy.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
