ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Boshoff du Toit van Du Toit’s Bande kniel te midde van die stukkende pilaar wat deur ‘n polisievoertuig verwoes is.

Polisievoertuig maak amok by Supa Quick

 

News  Date: 01 April 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Personeel van Du Toits Bande (Supa Quick) het verlede Donderdag met groot verwondering gekyk na die skade wat deur ‘n polisievoertuig aan hul gebou se vooraansig aangerig is.

Die polisievoertuig het omstreeks 04:00 buite beheer getol. Dit het eers Du Toit’s Bande se administratiewe gebou skrams getref, waarna dit eers die een, toe die tweede en toe die derde sementpilaar voor Du Toit’s Bande se verkope-afdeling getref het. Die derde pilaar is in stukke gejaag, by die plek waar die polisievoertuig “mooi netjies” onder die onderdakparkering tot stilstand gekom het.

Teen dagbreek is die polisievoertuig reeds verwyder. Danksy die nagwag kon die personeel uitvind wat gebeur het. Niemand van die polisie het egter eers die moeite gedoen om die eienaars van die besigheid te kontak nie.

Dit het later aan die lig gekom dat die polisievoertuig bestuur is deur ‘n inspekteur wat beweer hulle was besig om ‘n verdagte BMW sonder registrasienommer teen hoë spoed te jaag. Feitlik reg voor Du Toit’s Bande het hy egter beheer verloor oor die voertuig. Die BMW het weggekom. Nodeloos om te sê, die inspekteur het seker baie uitskryfwerk gekry oor die ongeluk.

Mnr. Theuns du Toit van Du Toits Bande het Woensdag gesê hy sluk maar swaar aan die polisie se verklaring oor wat die aand gebeur het. Gelukkig, sê hy, het hy versekering. Nuwe pilare moes teen ‘n koste van sowat R15 000 opgerig word.

“Ek weet nie wat die versekeringsmaatskappy met die polisie gaan doen nie,” sê mnr. Du Toit.

Dit wil voorkom asof die polisie die afgelope naweek gesukkel het om hul voertuie uit geboue te hou. Vrydagaand het ‘n polisievoertuig in ‘n huis ingejaag by Thengwe-Madzivhani naby Sibasa. ‘n Groot deel van die huis is in puin gelê. Gelukkig was daar niemand in die vertrek nie. Volgens die polisie het die bestuurder eers in ‘n bees vasgery, waarna hy beheer verloor het oor die voertuig.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines