

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 April 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - ‘n Vlaag misdaad wat in die skoolvakansie soos ‘n veldbrand deur die dorp en die nuwe uitbreiding getrek het, is nou na alle waarskynlikheid op ‘n einde met die arrestasie van twee verdagtes.
In informele gesprekke tussen inwoners kon een nare verhaal dadelik met ‘n ander getroef word.
In een geval het ‘n “soekende” hand wat deur ‘n oop venster na binne gevoel het, die skryf van ‘n koerantstorie ru onderbreek. Oorverdowende gille het ta se donker roetine onderbreek en hy het duidelik groter geskrik as sy voornemende slagoffer. Die voorval het 01:30 op 16 Maart plaasgevind. Gerusstellend was die oombliklike reaksie van die blokhoof van Sektor 4, wat binne vyf minute op die toneel was.
Gou word daar dan vertel van ‘n ander geval waar ‘n duvet van ‘n bed deur die venster afgesteel is met ‘n draad.
In Krugerstraat word daar weer ‘n dogtertjie se nuwe fiets en pop buite die huis gesteel.
Dan was daar die geval in die nuwe uitbreiding waar die boosdoener die kussing onder die kop van ‘n slapende seun uitgetrek het met ‘n lat wat hy in die tuin gepluk het. Die seun het ‘n hou oor die oor en been gekry. Toe hy sy stem hard en duidelik laat hoor, het die inbreker weggehardloop. Dit het omstreeks 22:30 op 23 Maart gebeur. Later, toe dit lig word, het hy en sy pa, mnr. Theuns Kloppers agtergekom dat die motordeur effens oop staan en dat die flits wat in die motor was, vermis word. Die flits is later teruggevind.
Die inwoners wat in Olifantstraat besteel is, was minder gelukkig. R15 000 se klerasie is uit voertuie gesteel voordat die eienaars dit nog kon aflaai.
Die misdadigers se pad na Olifantstraat het geloop vanaf die N1 waar drade geknip is, oor die mure en erwe in Hlanganistraat en dan deur na Olifantstraat.
Die plek waar die grootste gat in die draad is, is regoor mnr. Tommy Thompson. Feitlik al tien drade wat die woongebied van die N1 skei, is afgeknip. Die draad is nog ‘n paar ander plekke ook geknip, telkens regoor die hek van ‘n huis. Die Thompsons bedryf ‘n vervoerbesigheid en vroeg Donderdagoggend, 24 Maart, is die battery van hul Kia-vervoerwa afgesteel. Die Kia se battery sit aan die buitekant.
“Daar is ook met die Isuzu bakkie gepeuter, want die alarm gaan nou heeltyd af, selfs al word daar nie aan die voertuig geraak nie,” sê Esther Thompson.
“Hulle het langsaan ‘n kruiwa gesteel, waarskynlik om die battery te vervoer.”
Die Thompsons het nie die polisie geskakel nie, maar hulle sekuriteits- en opspoormaatskappy. Die maatskappy se sisteem het egter nie die diefstal onmiddellik opgetel nie, omdat die battery van buite afgesteel is en die voertuig nie beweeg het nie. Vroeër is ‘n leer ook uit die Thompsons se tuin gesteel.
Mnr. Kloppers het op sy beurt ondervind dat die polisie goed opgetree en persoonlike aandag gegee het.
“Teen etenstyd het hulle reeds ‘n vingerafdruk gekry. Die volgende dag het hulle vir my gesê dat hulle twee verdagtes (Zimbabwiërs) aangekeer het,” sê mnr. Kloppers. Onbevestigde berigte lui ook dat al die gesteelde goedere teruggevind is.
Op Vrydag, 24 Maart, was polisiepatrollies ook baie sigbaar in die nuwe uitbreiding. Die probleme wat al die week voor die Paasnaweek begin het, is waarskynlik hokgeslaan met die arrestasies. Superintendent Shivula, stasiebevelvoerder van die plaaslike SAPD, het op 29 Maart bevestig dat daar nie verdere huisbrake in die nuwe uitbreiding was nie.
Dit lyk of inwoners nou weer rustiger kan slaap, alhoewel dit steeds onwys bly om toerusting buite in die tuin te laat.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
