

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 April 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Juanita Voges se tassies is gepak en daar heers groot opgewondenheid in haar hart dat sy binnekort weer sal kan loop.
Binne slegs 28 dae nadat sy ‘n beroep gedoen het op inwoners om haar finansieel by te staan is die R85 000 wat sy benodig het vir gespesialiseerde rehabilitasie ingesamel.
“Sê vir die mense hulle kan maar ophou gee,” was Juanita se dankbare woorde.
Die 31-jarige Juanita se lewe het op 19 Desember, 1999, ingrypend verander, nadat ‘n duikongeluk in ‘n swembad haar as ‘n kwadrupleeg in ‘n rolstoel gelaat het. Dat sy hoegenaamd oorleef het, is as ‘n wonderwerk beskryf.
Tog was daar geen afbreek aan dié eens energieke vrou se veggees nie. Terwyl baie geglo het sy sal nooi weer herstel nie het sy die kritici verkeerd bewys met haar vasberadenheid om weer te loop. Sy het haar grootste mylpaal bereik toe sy die verswakte gebruik van haar bene in so ‘n mate ontwikkel het dat sy met behulp van ‘n loopraam 300 treë kan gee. Dit was egter gou duidelik dat Juanita se voortgesette vordering gespesialiseerde rehabilitasie sal vereis.
Hulp het gekom in die vorm van die Aurora Hospitaal in die Oos-Kaap. Dié sentrum bied rehabilitasieprogramme en fasiliteite vir pasiënte met spesiale beserings en is vergelykbaar met die beste programme wat internasionaal beskikbaar is. Die ses-weke-lange behandeling het egter gekom teen ‘n prys van R85 000. Dit was toe dat Juanita en haar man, Niel, inwoners gevra het om hul harte en beursies oop te maak. Min sou kon dink dat hulle binne ‘n maand hul mikpunt sou kon bereik.
“Dit kom uit die Here se hand uit,” sê Juanita. Sy beskou inwoners se openhartigheid as ‘n absolute wonderwerk. As diep gelowige voeg sy by: “Ek vertrou op U en wil vir U dankie sê, Here.”
Juanita vertrek Maandag, 4 April, na die Aurora Hospitaal.
“Dit is beslis nie ‘n wegbreek kans nie. Dit voel asof ek weermag toe gaan,” skerts sy. Sy is optimisties oor wat vir haar voorlê.
“Daar is ‘n paar mense sonder wie se hulp ek nie kon bereik wat ek bereik het nie,” sê Juanita. In dieselfde asem noem sy vir Vicky Potgieter, Marcia Potgieter, Euline du Plessis en Leani du Preez.
“Baie het gegee en baie het gevra dat ek nie hulle name moet noem nie. Tog wil ek vir Coxwell, Steyn, Vise & Naudé, die Perosan Trust, Werda Motors en Juline du Preez bedank vir hul bydraes.” Sonder die noem van name spreek sy ook haar dankbaarheid teenoor al die ander mense en besighede wat gehelp het.
Juanita het geweier dat daar ‘n foto van haar geneem word voor haar vertrek.
“Nee, neem eerder ‘n foto as ek terug kom en weer kan loop,” was haar opgewonde afskeidswoorde.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
