

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 April 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - “As dit nie was vir die genade van die Here en my fiksheid van die fietsry nie, dan was ek nie vandag hier nie,” sê Andries Smal.
Andries (40) het Donderdagaand, terwyl hy fietsgery het, ‘n hartaanval gekry. Hy sê dat alhoewel hy die probleem gekry het terwyl hy besig was om te ry, dit juis die einste fietsry is wat gemaak het dat hy nog leef om die storie te vertel.
Op Donderdagaand, 24 Maart het Andries, wat deel is van die Zero to Hero 15-Week Fiksheidsuitdagingsgroep, die gewone 20km roete in die dorp gery. Na 14 km het Andries gevoel daar is fout.
“My bors het gebrand en ek het teruggedraai na die beginpunt, so 2km vanwaar ek was. Ek het die bakkie geneem en huis toe gery. Ek het bitter sleg gevoel en op die bed gaan lê,” sê Andries.
Andries se vrou, Charmaine, is ook deel van die fietsrygroep en het eers die roete klaargemaak. By die huis aangekom, het sy dadelik besef dat daar groot fout is met Andries. Charmaine het dr. Casper Venter geskakel. Hy het gesê het dat hy hulle by die spreekkamer sal ontmoet.
“Hoe dr. Casper so vinnig by die spreekkamer gekom het, weet ek nog steeds nie. Ek het na die voertuig gesukkel en ons het na die spreekkamer, wat baie na aan ons huis is, gery. Daar gekom, was dr. Venter vóór ons daar,” sê Andries, wat net die grootste lof vir die hulp van dr. Venter en die personeel van die Soutpansberg Mediese Kliniek het. Hy vertel verder dat dr. Venter ‘n EKG geneem het en dat dit ‘n baie sterk hartaanval was. Hy het vyf dae in die kliniek deurgebring.
“Die mediese personeel het almal saamgestem dat ek nie meer met hulle sou gewees het as dit nie was dat die fietsry my fiks gemaak het nie,” sê Andries. Sy herstelproses was ook baie vinniger as gevolg van sy fiksheid. Hy het voor die Zero to Hero ook fietsgery, maar net so ‘n vyf kilometer hier en daar.
Die Zero to Hero-uitdaging het op 10 Januarie begin en fietsryers berei voor om meer as 70km aan te durf.
“Charmaine sal namens my klaarmaak,” sê Andries, wat hom nou eers vir ‘n paar weke moet stil gedra. Daarna is hy vasbeslote om weer te ry, want hierdie gogga het nou gebyt. Die positiewe verandering in lewenstandaard wat die fietsry meebring, wil Andries beslis handhaaf.
Andries is deeltyds in die bediening by die N.G. Kerk Louis Trichardt-gemeente waar hy gesins- en gevangenisbediening behartig. Terwyl hy hom moet stil gedra, gee hy ekstra aandag aan sy berading- en woordstudies. Andries en Charmaine bedank die gemeenskap: “Die ondersteuning vanuit die gemeente, gemeenskap, bybelstudiegroepe, selgroepe en gebedskettings was net wonderlik.”
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
