ADVERTISEMENT:

 

Mev. Rina van Wyk by die OTM waar sy verlede Donderdag van R3 000 beroof is sonder dat enige geld uit die OTM gekom het.

Inwoner verloor duisende in OTM-slenter

 

News  Date: 08 April 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Nog ‘n inwoner is R3 000 kwyt as slagoffer van ‘n OTM-slenter by ‘n plaaslike bank.

Mev. Rina van Wyk, nog erg ontstoke, vertel dat sy verlede Donderdag na die OTM gery het, nadat sy haar man in die hospitaal besoek het. Sy het omstreeks 19:55 by die hospitaal gery en by die bank gestop. Na 19:00 is daar nie sekuriteit by die bank se OTMe nie.

Rina het gehuiwer toe sy twee mans by die OTM gewaar het, maar die een het gelyk of hy sy besigheid klaar gedoen het.

“Hy het ‘n mosterdkleurige hemp aangehad en was by die regterkantste OTM. Hy het wegbeweeg en ek het my kaart in die OTM gaan indruk. Die OTM het eers die kaart geweier, maar skielik het daar iets in ‘n onbekende taal op die skerm verskyn. Dit was vir my Grieks,” sê Rina.

“Maar toe kom die man met die mosterd hemp weer van agter nader en sê ‘This is a new program.’ Ek het omgedraai om vir hom te sê hy moet padgee, maar hy was reeds weg.”

Rina het haar kodenommer ingesleutel, maar toe dadelik gekanselleer toe sy besef sy kan niks lees nie. Die man met die rooi hemp aan haar linkerkant was in daardie stadium nog besig by die OTM. Hy het weggegaan en Rina het haar kaart in daardie OTM gedruk, maar die boodskap op die OTM het gelui dat dit die verkeerde kodenommer was.

“Toe ek die kaart uithaal en omdraai, sien ek dis nie my kaart nie. Ek het besef ek is uitgevang!”

Rina het dadelik na die bakkie gehardloop, haar selfoon uitgehaal en teruggekom na die OTM om die tolvryenommer te skakel waar sy haar kaart kan kanselleer.

Tot haar verdere ontsteltenis, is sy meegedeel dat daar reeds R3 000 uit haar kaart onttrek is.

Die kaart in haar hand het ‘n handtekening agterop wat lyk na Stegman. Daar is geen naam voor op die kaart gedruk nie. Rina het besef dat toe die man met haar gepraat het, hy reeds haar kaart omgeruil het. Sy blitsige aksie wys waarskynlik op ‘n goedgeoefende professionele skurk.

Rina het later by die bank vasgestel dat die R3 000 by die OTM onttrek is om 19:59.

“In daardie stadium was ek nog by die eerste teller aan die regterkant. Ek kan dit glad nie verstaan nie. Daar is geen geld uit my hande gesteel nie. Geen geld het uit die OTM gekom nie. Dit voel vir my of die OTM my geld gevat het,” sê Rina.

Die ontstelde Rina sê dat sy glad nie die saak daar gaan los nie. Sy is egter so besig by die meubelwinkel waar sy kredietbestuurder is dat sy nie kans kry om haar verklarings by die bank te voltooi nie.

‘n Woordvoerder van die bank het gesê dat hulle kennis dra van die voorval en dat hulle kommunikasieafdeling in Johannesburg nog sal reageer. Die gewone prosedure is dat die saak, in samewerking met die SAPD, volledig ondersoek word. By ‘n kaartruiling word gewoonlik ‘n ondersoek na alle transaksies by al die kitsbanke gedoen. Dit gebeur dikwels dat kaartruildiewe in groepe van twee of meer saamwerk.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines