ADVERTISEMENT:

 

Lede van die destydse Zoutpansberg-kommando op die Pietersburg stasie op pad Natal toe tydens Anglo-Boereoorlog.

Soutpansberg Kommando - Meer as 100 jaar se diens

 

News  Date: 08 April 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die veelbewoë, eeu-oue bestaansgeskiedenis van die Soutpansberg Kommando gaan op luisterryke wyse in herinnering geroep word tydens ‘n indrukwekkende onthullingsprogram wat die Zoutpansberg Skermutselings- en Erfenisstigting op 23 April aanbied.

‘n Besonderse monument ter ere van die Soutpansberg Kommando gaan by die geleentheid onthul word. Die monument sal een van die beduidende ankerpunte wees op die Zoutpansberg Skermutselingsroete, wat reeds gevestig is as een van die gewildste toerisme belewenisse in die noorde van die Limpopo Provinsie.

Die roete verbind verskeie unieke en seldsame besienswaardighede uit die tydperk van die Anglo-Boereoorlog. Dit sluit onder meer in die historiese Fort Edward en die Vliegenpan slagveldterrein - toneel van die opspraakwekkende veldslag tussen strydmagte van die Britse Ryk en die Zoutpansberg Kommando onder aanvoering van Kom-mandant Generaal Christiaan Beyers.

Die skermutseling by Vliegenpan was die eerste regstreekse botsing tussen die Zoutpansberg Kommando onder aan-voering van Kmdt. Genl. Beyers en magte van die Britse Ryk – verteenwoordig deur die Pietersburg Light Horse – ‘n nuwe gedaante van die berugte Bushveld Carbineers – onder aanvoering van Luitenant Kolonel H. C. Denny.

Denny, met ‘n gesamentlike mag van meer as 500 man, is op Vliegenpan in ‘n hinderlaag gelei, terwyl hy opgeruk het om die beleg van Fort Edward te probeer beëindig. Beyers, met nagenoeg 140 manskappe, waarvan die meeste nie oor perde beskik het nie, het Denny vanuit ‘n strategiese posisie verras. Denny en sy manskappe het wanordelik op die vlug geslaan. Sy regiment sersant-majoor het in die slag gesneuwel.

Luitenant Kolonel Denny, wat op Pietersburg gestasioneer was, was die voorsittende beampte in die meeste van die militêre hofverrigtinge waarby lede van die Bushveld Carbineers, onder andere die hoogs omstrede “Breaker Morant,” betrokke was. Die Bushveld Carbineers se naam is na die gebeure verander na die Pietersburg Light Horse.

Lede van die Zoutpansberg Kommando sal op 23 April vanjaar deelneem aan die plegtige onthulling van ‘n monument by Vliegenpan. Die plegtigheid kom te midde van die huidige omstrede uitfasering van die kommando’s in Suid-Afrika.

Lede van die Soutpansberg Kommando het tydens die Anglo-Boereoorlog op talle plekke in die land diens gedoen.

Tydens die program wat die Skermutselings- en Erfenis Stigting op 23 April aanbied, sal ‘n perde-optog ook deelneem.

Benewens die monument vir die Zoutpansberg Kommando sal ‘n borsbeeld van Beyers en ‘n monument ter ere van die perde van die Anglo-Boereoorlog onthul word, terwyl die Lalapanzi Skermutselingsmuseum by dieselfde geleentheid amptelik geopen sal word.

Die verrigtinge op 23 April begin om 12:00 by Lalapanzi Hotel en duur tot 19:00. Dit sluit onder meer besoeke aan Fort Edward en Vliegenpan in.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines