ADVERTISEMENT:

 

Bo: Die erg beseerde mev. Brigitte Wiedeck (57) kort voordat sy Maandagaand oorgeplaas is na die MediKliniek in Polokwane. Onder: Mnr. Werner Wiedeck se oor is deur sy aanvallers middeldeur geslaan met ‘n sambok.

"Gee vir ons geld of ons maak jou vrou dood"

 

News  Date: 15 April 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Nog half deurmekaar en nog duidelik in skok herleef die 65-jarige mnr. Werner Wiedeck die skokgebeure toe hy en sy 57-jarige eggenoot, Brigitte, Maandagaand wreedaardig by hul plaaswoning aangeval is.

Twee maande duskant ‘n jaar is dit die tweede keer dat dié Duitse egpaar op so ‘n barbaarse wyse op hul plaas aangeval is. Werner trek diep aan sy sigaret, terwyl dokters by die privaatkliniek spook om sy ergbeseerde vrou se toestand te stabiliseer.

“Gee vir ons geld of ons maak jou vrou dood,” onthou Werner hul aanvallers se woorde. Geblindoek en vasgemaak het hy nie eens geweet of sy nog lewe nie.

Maandag se aanval het omstreeks 18:00 op die plaas New Country van die Wiedeck’s op die Vondeling-pad plaasgevind. Brigitte verkoop eiers in die dorp en die egpaar het skaars by die huis arriveer toe hulle oorval is.

Werner, wat nog by sy vragmotor doenig was, is deur twee mans oorrompel. Sy oor is middeldeur geslaan met ‘n sambok. Hy is daarna geblinddoek, vasgebind en met ‘n stuk plastiek in die mond agter in die vragmotor gegooi. Hy sou eers later uitvind dat hul huishulp, die 43-jarige Julia Nemukula, saam met hom agter in die vragmotor gegooi is. Julia, wat ook erg gekarnuffel is, is ook geblinddoek en vasgebind.

Te midde van die drama by die vragmotor is Brigitte by haar voordeur oorrompel. Sy is talle houe toegedien met ‘n yster paal en het in ‘n bloedmassa op die grond neergesak. Die egpaar se getroue boerboel, Jaffa, was in die huis toegesluit om seker te maak niemand breek in nie. Brigitte was net betyds om hom uit te laat voor sy oorrompel is, maar die verdagtes het hom ook toegetakel.

Ten spyte van ‘n ernstige skedelfraktuur is Brigitte nog by haar bewussyn terwyl sy uit haar hospitaalbed vertel van haar byna noodlottig ervaring. Sy sê die aanvallers het haar herhaaldelik bly slaan en geld geëis.

In ‘n stadium, sê sy, het sy besef hulle gaan haar doodslaan en het sy gemaak of sy haar bewussyn verloor het. Terselfdertyd, vertel Brigitte, het sy gedink sy gaan dood, aangesien hulle haar serp in haar mond gedruk het en sy besig was om in haar eie bloed te verstik. Die aanvallers het daarna op die vlug geslaan met ‘n hoeveelheid kontant en Brigitte se selfoon en bril.

Toe dit stil raak, het die bebloede Brigitte etlike meters ver gekruip na hul motorhuis. Sy was steeds vasgemaak, maar sy het geweet daar is ‘n mes in die motorhuis waarmee sy haar kon lossny. Na sy haarself bevry het, het sy vir Werner en Julia gaan lossny. Die telefoon in die huis het gelui en gelui. Dit was die bure wat die alarm gehoor het en geskakel het om uit te vind of alles in orde was. Dit was toe dat Werner hulle meegedeel het dat hulle aangeval is.

Lede van die plaaslike polisie het tot laatnag toe nog die area vir verdagtes en leidrade gefynkam. Hul soektog het egter niks opgelewer nie. Jaffa, wat tydens die vorige aanval drie keer geskiet is, was ook vermis. Hy het later egter erg beseer huistoe gekeer, nadat hy die aanvallers vermoedelik agterna gesit het.

Nadat Brigitte se toestand gestabiliseer is, is sy laat Maandagnag oorgeplaas na die MediKliniek in Polokwane. Kort voor haar vertrek was haar smeekgebede dat sy nie haar oog moet verloor nie. Haar regter oogbank is deur ‘n hou van die ysterpyp vergruis. Dit het Dinsdagaand as slegte nuus gekom vir vriende en familie dat Brigitte reeds sig in die beseerde oog verloor het en dat die moontlikheid bestaan dat haar oog dalk verwyder moet word. Na ‘n bykans ses-uur-lange operasie was medici ook van mening dat dit nog te vroeg was om te spekuleer of Brigitte moontlik breinskade opgedoen het.

Teen druktyd was daar nog geen aanduiding van die polisie dat enige iemand al in verband met die voorval aangekeer is nie, behalwe ‘n vae spekulasie dat die aanvallers, soos gewoonlik, moontlik Zimbabwiërs kon wees. Intussen staan Werner se kop terug Duitsland toe. Hy het kort na die voorval opgemerk dat, alhoewel Duitsland dalk ook nie ‘n paradys is nie, hy veel eerder weer sal terugkeer as om verder in Suid-Afrika te bly.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines