

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 April 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Ernstige belastingimplikasies kan vir grondeienaars wie se grond onderhewig is aan grondeise, voorlê. Die belastingimplikasies, asook verskillende opsies vir grondeienaars, is onder die loep geneem tydens ‘n vergadering op 7 April.
Twee opsies vir huidige grondeienaars is voorgehou deur die voorsitter van die Voorsittersvereniging (VV), mnr. André Naudé.
Die eerste opsie is om te verkoop. Drie gevolge van hierdie opsie is deur mnr. Naudé voorgehou, naamlik die grondeienaar kan verkoop en nie weet wanneer hy betaal gaan word nie, hy kan gedreig word met ekspropriasie (onteiening), of hy kan verkoop en met groot belastingprobleme sit.
Die tweede opsie is om ‘n hofsaak aan te gaan.
“Die hofsaak kan tot R500 000 kos en as almal hofsake maak, sal dit 74 jaar neem om al die sake af te handel,” sê mnr. Naudé. Tydens die hofsaak kan die grondeienaar in die tussentyd inkomste genereer. Die hele prosedure bring egter baie spanning mee en daar is geen dinamiese ontwikkeling in die streek nie. Grondeienaars sal eerder hul inkomste vanuit oeste in ‘n provinsie belê waar daar nie die bedreiging van grondeise is nie.
Sekere probleme kan ook ontstaan ten opsigte van BTW, eiendomsbelasting en kapitaalwinsbelasting.
Mnr. Henning Viljoen, geoktrooieerde rekenmeester, het gesê dat die Grondeise Kommissaris van mening is dat hy nie BTW betaal nie, aangesien dit eintlik die regering is wat die eiendom uitkoop.
“Dit is van alle waarheid ontbloot … indien ‘n boer vir BTW geregistreer is, is BTW sonder twyfel betaalbaar op die verkoopprys,” het mnr. Viljoen gesê. Die Grondeise Kommissaris neem geen roerende bates oor nie, dus kan die eiendom nie as ‘n lopende saak (going concern) verkoop word nie. Buiten die going concern vereiste, is die eisers na alle waarskynlikheid ook nie geregistreer vir BTW nie. Enige ander bate, soos trekkers en implemente wat verkoop word, sal onderhewig wees aan BTW, aangesien dit nie as ‘n lopende saak saam met die eiendom verkoop word nie.
Wat inkomstebelasting betref, is daar ook probleme wat kan ontstaan. Sommige boere se bates, soos trekkers, implemente, vragmotors en andere, is reeds ten volle afgeskryf. Indien so ‘n boer boerdery sou staak en die betrokke bates sou verkoop, sal die opbrengs onderhewig wees aan inkomstebelasting. Die balans bo die oorspronklike kosprys sal onderhewig wees aan kapitaalwinsbelasting. Indien die oorspronklike kosprys egter onbekend is en daar nie ‘n waardasie vir kapitaalwinsbelasting gedoen is nie, sal 20% van die opbrengs geag onderhewig wees. Die balans sal onderhewig wees aan kapitaalwinsbelasting.
“Lewende hawe word teen standaard-waarde vir belastingdoeleindes waardeer. So sal ‘n koei byvoorbeeld slegs R40 werd wees en ‘n kalf R4. Enige verkoopprys bo hierdie bedrag sal dus belasbaar wees. Wat wild betref, sal die volle opbrengs onderhewig wees aan inkomstebelasting,” het mnr. Viljoen gesê.
Enige kapitaalwins wat gerealiseer word met die verkoop van ‘n bate, sal onderhewig wees aan kapitaalwinsbelasting. Dit sal van toepassing wees op die verkoop van die eiendom, sowel as enige kapitaalwins gerealiseer met die verkoop van trekkers en implemente. Die kapitaalwins sal gerealiseer word in ‘n jaar waar die belasbare inkomste waarskynlik die hoogte sal inskiet as gevolg van die totale uitverkoping en realisering van toerusting, vee en wild.
Mnr. Naudé het ook oortolligheidspakette wat aan werkers betaalbaar is, genoem.
“Die Kommissie vir Grondeise maak geen voorsiening vir die rehabilitasie van boere of hulle werkers nie,” het mnr. Naudé gesê.
Die donker prentjie wat geskets is, was deel van die motivering wat gelei het tot ‘n besluit van die VV om aan te dring by die Grondeisekommissie vir ‘n omvattende en geïntegreerde implementeringsprogram. Die gegewens was eintlik ook bedoel vir die ore van die LUR van Landbou, me. Dikeledi Magadzi, wat op die nippertjie ‘n vergadering in Kaapstad moes bywoon en nie haar afspraak met die VV kon nakom nie. Mnr. Sam Moeti, burgemeester van die Vhembe Distrik, het die vergadering bygewoon.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
