

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 April 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die plaaslike Kruiskomitee het ingestem om ‘n fonds te administreer vir klein Andrea Joubert, wat gediagnoseer is met ‘n aggressiewe vorm van bloedkanker.
Die spesiale fonds het noodsaaklik geword, nadat dringende behandeling vertraag is as gevolg van administratiewe rompslomp by haar ouers se mediese fonds.
Andrea, die 9-jarige dogtertjie van JJ en Renata Joubert, is reeds op 31 Maart vanjaar gediagnoseer en chemoterapie moes reeds op Woensdag, 6 April in Pretoria begin het. Dit moes uitgestel word, toe dit aan die lig gekom het dat die mediese fonds se voordelepakket klaarblyklik nie vir chemoterapie voorsiening maak nie.
Na berig word het die fonds op 12 April ingestem om vir ‘n gedeelte van die koste in te staan. Dié bewilliging is egter deur die eerste behandeling uitgeput. Andrea moet ook beenmurgoorplantings ondergaan, sodra ‘n geskikte skenker gevind kan word.
Die koste verbonde aan die beoogde behandeling wissel van persoon tot persoon, maar ‘n totale rekening van tussen R100 000 en R200 000 is nie ongewoon nie. Inwoners van Louis Trichardt het spontaan besluit om ‘n hulpfonds te stig om te verseker dat Andrea die opvolgbehandeling en beenmurgoorplanting kan ontvang. Die plaaslike Kruiskomitee het ingestem om die fonds te administreer.
Enigiemand wat ‘n skenking wil maak kan ‘n regstreekse deposito of internetbetaling doen in die volgende rekening: DIE KRUIS/THE CROSS, Standard Bank, Louis Trichardt-tak, Rekeningnommer 437 541 096, Takkode 052-549, Verwysing: Andrea.

ADVERTISEMENT:
