ADVERTISEMENT:

 

Polisie deporteer verdagtes in plaasaanval-saak

 

News  Date: 22 April 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Vyf mans wat deur ‘n sekerheidsmaatskappy aangekeer is in verband met ‘n ernstige plaasaanval, is deur die polisie gedeporteer as onwettige immigrante.

‘n Polisiewoordvoerder het vandeesweek bevestig dat niemand in hegtenis geneem is of aangehou word in verband met verlede week se plaasaanval waarin die Duitse egpaar Wiedeck op barbaarse wyse wreed vermink is op die plaas New Country op die Vondelingpad nie. Mevrou Brigitte Wiedeck (57) verkeer nog steeds in ‘n ernstige toestand in ‘n hospitaal in Polokwane met ‘n skedelfraktuur en ernstige oogbesering wat sy opgedoen. Die wreedaards het haar vir dood agtergelaat. Haar man, mnr. Werner Wiedeck (65), se een oor is middeldeur gekloof met ‘n sambok.

Die polisie het na die voorval in ‘n kriptiese verklaring gesê ‘n klag van gewapende roof word ondersoek.

‘n Bende van agt was vermoedelik verantwoordelik vir die brutale aanval op die egpaar, hul huishulp en hul waghond.

Volgens getuies het verlede week se aanvallers lede ingesluit van ‘n groep wat voorheen ook betrokke was by ‘n mislukte aanval op die plaas. Die vorige aanval is met welslae deur mnr. Wiedeck afgeweer toe hy met ‘n haelgeweer op die booswigte losgebrand het. Gedurende verlede week se aanval wou die aanvallers by mnr. Wiedeck weet waar sy haelgeweer is.

Volgens die voorlopige aanduiding het die agt aanvallers twee dae na die aanval weer na die plaaswoning teruggekeer. Die nag na die wreedaardige aanval is die polisie in kennis gestel van vure in die bos, waar die booswigte vermoedelik op die plaas gaan skuil het. Volgens die sekerheidsbeampte wat die teenwoordigheid van die vermeende misdadigers by die polisie aangemeld het, wag hy nog steeds vir die polisie om te reageer.

Woensdagmiddag het ‘n veiligheidsbeampte weer gerapporteer dat agt vreemde mans deur die draadheining die plaaswoning nader. ‘n Reaksie element van die betrokke maatskappy het die agt digby die plaaswoning betrap en gekonfronteer. Ses van die groep het in die bosse in gevlug en twee is deur veiligheidsbeamptes in hegtenis geneem en by die plaaslike aanklagkantoor aan die polisie oorhandig. Onderweg na die polisiestasie het hulle verby mnr. Wiedeck gery. Die twee verdagtes het hom bemerk en met ‘n sweepslag-beweging beduie na sy kopwonde wat hy opgedoen het in die aanval.

Drie verdagtes wat vroeër langs die pad digby die plaas aangekeer is, is ook aan die polisie oorhandig.

Verskeie voorwerpe wat met die aanval verband hou, is later deur lede van die sekerheidsmaatskappy in die bosse naby die plaaswoning opgetel en aan die polisie oorhandig.

Volgens ‘n woordvoerder van die betrokke maatskappy sou vingafdrukdeskundiges die dag na die aanval na die plaas terugkeer om vingerafdrukke van die voertuie en ander voorwerpe af te lig.

“Tot en met Dinsdag vandeesweek het ons hulle nog nooit weer gesien nie. Terwyl alles daarop gedui het dat die booswigte nog steeds iewers op die plaas mag skuil, het die polisie in geen stadium meer as net die woonhuis en werf ondersoek nie,” het die verteenwoordiger gesê.

Oor die feit dat nie een van die verdagtes meer in polisie aanhouding is nie, het ‘n woordvoerder van die sekerheidmaatskappy gesê: “Ons ondervind dit dikwels dat ons met groot moeite verdagtes aankeer en na die polisie bring en dan word dit nie eers in die voorvalleboek by die polisiestasie aangeteken nie. Dan word hulle dieselfde dag nog vrygelaat en gedeporteer, om bloot weer oor die onbewaakte grens terug te keer om verder te kom kwaaddoen.”

Volgens die woordvoerder was twee van die drie wat digby die plaas onder verdagte omstandighede aangekeer is, bestempel as onwettige immigrante wat summier gedeporteer is, terwyl hul een makker, wat glo ‘n Suid-Afrikaanse burger is, na die betaling van ‘n boete vrygelaat is. Hy was onder die indruk dat die ander twee, wat saam met die groep van agt by die plaaswoning aangetref is, en in die teenwoordigheid van die plaaslike stasiebevelvoerder aan die polisie oorhandig is, wel in hegtenis geneem is en deur die polisie as verdagtes aangehou word.

Woensdag is vasgestel dat die twee ook nie meer as verdagtes aangehou word nie. ‘n Polisiewoordvoerder het by navraag gesê die ondersoek na die aanval is oorgeplaas na die eenheid vir Ernstige Geweldsmisdaad in Thohoyandou. By navraag het die ondersoekbeampte gesê niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Hy het gesê die betrokke twee verdagtes is as onwettige immigrante gedeporteer, nadat vasgestel is dat hulle nie met die voorval verbind kan word nie. Op ‘n vraag hoe die twee wat saam met die groep van agt by die plaaswoning opgedaag het, twee dae na die geweldsmisdaad, bloot vrygelaat kon word, het die woordvoerder gesê hulle is nie vrygelaat nie, hulle is gedeporteer. Op ‘n vraag hoe daar bo alle twyfel vasgestel is dat die twee, wat onder uiters verdagte omstandighede op die toneel van die misdaad betrap is, niks met die misdaad te make gehad het nie, het die woordvoerder gesê die polisie het hulle ondervra en hulle het ontken dat hulle by die misdaad betrokke was, maar beken dat hulle onwettige immigrante is. Hierop is hulle summier gedeporteer.

Die polisiewoordvoerder het gesê hy dra geen kennis van die ander drie wat in verband met die voorval aangekeer was nie.

Die plaaslike kommunikasie-offisier van die polisie het gesê dat die saak in die hande van die ondersoekspan in Thohoyandou is en dat geen inligting plaaslik beskikbaar is nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines