

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 April 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Dit wil gedoen wees ... Marli Knoetze, die streek se goue atletiekmeisie van Levubu, is tans die nommer een senior gewigstootvrou in Suid-Afrika!
Tydens die Senior Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe wat op 15 en 16 April in Durban gehou is, het dié sewentienjarige die goue medalje verower in die gewigstoot vir senior vroue met haar gooi van 16,30m. Sy het ook ‘n brons medalje in die diskus huistoe gebring .
Dit was met haar tweede gooi op 15 April dat Marli goud vir haarself verseker het. Sy het haar naaste teenstander, die 16-jarige Simone du Toit, gemaklik uitgestof. Dié twee jeugdiges het die toneel oorheers by die senior vroue gewigstoot. Du Toit was tweede met 16,04 en Elene Taljaard derde met 13,01m.
“Dit het nog nie ingesink dat ek die nommer een vrou in die land is nie,” sê Marli. “Ek wou graag die rekord gebreek het en my persoonlike beste verbeter het. Maar ek is bly oor die goue medalje, want dit is wat my afrigter wou hê.”
Marli se persoonlike beste het sy aangeteken tydens Atletiek Suid-Afrika (ASA) se junior kampioenskappe twee weke gelede. Haar gooi van 16.51 was net 2cm duskant die Afrika-rekord wat Veronica Abrahamse in 1999 opgestel het.
By die diskus was Marli derde met ‘n gooi van 46,05m, Simone du Toit tweede met 49,12m en Elizna Naudé eerste met 59,50m.
Marli se afrigter, mnr. Robbie Robberts, glimlag breed. Hy het gekry wat hy wou hê: ‘n goud in die vroue gewigstoot en ‘n goud in die mansgewigstoot. Janus Robberts, ook van Levubu, het die mans SA gewigstoot-titel gewen met 'n stoot van 19,89m.
“Oom Robbie is regtig ‘n wêreldklas afrigter. Hy is ook my atletiekpa wat my altyd aanmoedig. Ek wil vir hom baie dankie sê en ook vir Janus, wat hand bygesit het my afrigting,” sê Marli.
Toe sy klein was, was Janus haar rolmodel, sê Marli. Nou is haar sportheldin Astrid Kumbernuss van Duitsland, junior wêreldrekordhouer.
“Sy is vir my mooi,” sê Marli. “Sy is fris en het spiere, maar is nog steeds mooi as vrou. Op die veld is sy glad nie intimiderend teenoor ander atlete nie.” Kumbernuss het in 1989 die wêreldrekord opgestel met ‘n gooi van 20,54m.
Marli is tans ‘n Graad 12 leerder aan die Hoërskool Louis Trichardt. Met aanbiedinge van oral, verkies Levubu se goue meisie om volgende jaar vir eers tuis te bly om voltyds te oefen. Tukkies het haar al ‘n sportbeurs aangebied en sy het ‘n voëltjie hoor fluit dat die Noordwes Universiteit ook so iets in gedagte het. Janus se afrigter in die VSA het ook al vir haar met die riemtelegram laat weet dat hy haar in Amerika wil hê.
“Die groot kompetisies volgende jaar is eers die Statebondspele in Australië en die Wêreld Jeugkampioenskappe in Beijing, Sjina. As ek goed doen daar, is my pad oop vorentoe. Dan kan ek moontlik uitgenooi word na Europa, dan betaal hulle ook ‘n mens se onkoste. Maar ek is maar baie huisvas,” sê Marli.
Marli se beroepsideaal is om ‘n persoonlike afrigter te word. “Ek wil ‘n personal trainer word, nie net in atletiek nie, maar ek wil ook programme skryf vir mense wat byvoorbeeld gewig wil verloor, dus nie net in die sportrigting nie,” sê Marli.
Wat hierdie jaar betref, lê die Afrika Junior Atletiekkampioenskappe in Egipte voor, asook die rekordeksamen, die matriek eindeksamen en natuurlik die matriekafskeid. Marli het al die materiaal vir haar afskeidrok uitgesoek en sy gaan saam met ‘n baie spesiale metgesel.
Gelukkig is Marli al gewoond daaraan om haar atletiekoefeninge en huiswerk saam in te pas en nog ook tyd in te ruim vir haar spesiale vriend. Vir ander wat graag die hoogste sport wil bereik, is Marli se raad dat jy bereid moet wees om alles in te sit, baie opofferings te maak en baie dissipline aan die dag te lê.
Mnr. Willie Knoetze, Marli se pa, kan beaam dat Marli regtig alles insit. Na die afgelope naweek is hy met reg breëbors.
“Ons is so trots op haar. Dis ‘n anderste gevoel om te weet Marli is nommer een in Suid-Afrika.”
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
