

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 April 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Stomgeslaan van skok het omstanders Maandag in stille aanskouing toegekyk hoe nood- en reddingswerkers onverpoos gespook het om die lewens te red van talle wat in die busongeluk naby Muraleni beseer is.
Die ongeluk het plaasgevind nadat die bestuurder van die oorlaaide bus versuim het om by ‘n spoorwegkruising te stop. Sekondes later het ‘n goederetrein in die bus se agterkant ingeploeg. Die ongeluk het Maandagoggend omstreeks 07:20 plaasgevind.
Die toneel was ‘n toonbeeld van menslike ontbering en leiding. Beseerdes het in aanskoue van die lewelose liggame van familielede en vriende wat nie die ongeluk oorleef het nie, in klein groepies saamgedrom in afwagting op mediese hulp. Vir agt het hulp te laat gekom, terwyl andere later aan hul beserings beswyk het. Teen druktyd het die dodetal op 10 gestaan en die ongeluk word beskou as een van die ergste busongelukke nog in die streek.
Nuus van die gru-ongeluk het gou versprei. Die hartseer, leiding en skok was egter nie net beperk tot direkte familielede nie.
“Dit was die Here,” sê mev. Nora Maboko saggies, uit dankbaarheid dat sy nog leef. Sy werk as huishulp in Louis Trichardt en het daardie noodlottige oggend besluit om ‘n ander bus werk toe te neem. Groot was haar skok toe sy hoor dat die bus waarin sy gewoonlik ry in ‘n ongeluk betrokke was. In ‘n oogwink is ses van haar vriende en kennisse uitgewis.
“Daar was nie tyd om te skrik nie, maar daar was tyd om met die Here te praat,” onthou mnr. Morris Makgobo (57). Hy is werksaam by ClipXpress Drukkers op Louis Trichardt en hy was in die gedoemde bus toe die ongeluk plaasgevind het.
“Ons het almal die trein sien nader kom en het vir die busbestuurder geskreeu om stil te hou,” vertel Morris kort na die ongeluk. Die busbestuurder het egter aanhou ry en voor die aankomende trein oor die spoorwegkruising probeer jaag.
Morris sê dat daar nie plek vir ‘n muis was in die bus nie. Buiten die gewone sitplekke, het die gange ook vol gestaan en het sommige passasiers by die deur uitgehang. Hy onthou duidelik die slag toe die trein in die agterkant van die bus ingeploeg het en hoe die bus begin kantel het ... daarna sukkel hy om te onthou.
Morris sê dat, toe hy bykom, het die bus op sy kant gelê. Hyself het bo-op mense gelê, terwyl andere weer op hom gelê het. Daar was ook mense wat onder die bus vasgepen was, baie van hulle reeds dood.
“Dit was absolute chaos,” sê Morris. Hy sê hy weet steeds nie hoe hy uit die bus gekom het nie. Sy gedagtes, sê hy, het eers weer redelik helder geword met sy aankoms by die hospitaal.
Te midde van die tragedie skemer daar tog ‘n tikkie humor deur uit Morris se herinnering aan die ongeluk.
“Ek het gedink ek is dood, maar toe ek by die Hemel kom, was die hek gesluit. Dit was toe dat hulle vir my sê ek moet terugkom,” vertel Morris met ‘n glimlag. Die pyn in sy oë is egter duidelik sigbaar. Hy sê hy is kwaad vir die busbestuurder, maar dat hy weer sal bus ry.
“Ek het nie eers ‘n fiets nie – hoe anders gaan ek by die werk kom?” merk hy op.
Tientalle mense is in die ongeluk beseer. Alhoewel amptelike syfers teen druktyd nie beskikbaar was nie, staan die getal beseerdes op ongeveer 60. Intussen ondersoek die polisie is saak van strafbare manslag. Die busbestuurder, wie se identiteit teen druktyd nog onbekend was, het weggehardloop na die ongeluk. Hy is egter later aangekeer en deur die polisie gearresteer. Dit is nie seker wanneer hy in die hof gaan verskyn nie. ‘n Hoëvlak ondersoek is reeds geloods na die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die ongeluk.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
