ADVERTISEMENT:

 

Wyle Andrea Joubert (10).

Klein Andrea sterf 'n dag na tiende verjaardag

 

News  Date: 06 May 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – “Ons dank ons Hemelse Vader vir die tien volmaakte jare wat Andrea deur ons lewens kon huppel en lag,” lui die afskeidsgroet in die begrafnisbrief van klein Andrea Joubert.

Klein Andrea het verlede week Dinsdag, ‘n dag na haar tiende verjaardag, in Pretoria gesterf, nadat sy op 31 Maart met ‘n skaars soort bloedkanker gediagnoseer is.

Haar skielike ernstige siekte het die hele plaaslike gemeenskap aangegryp en die gesin is oorweldig met blyke van steun en meelewing.

Skoolmaats en ander vriende het Andrea se laaste verjaarsdag in die hospitaal iets heel besonders gemaak.

“Sy het werklik voluit verjaar daar in die hospitaal,” sê haar ma, mev. Renata Joubert.

“Daar was hordes geskenkies en haar maats het ook ‘n bandjie gestuur met boodskappe en sang. Sy het dit baie geniet – ook die talle SMS’e wat na haar selfoontjie gestuur is.”

Andrea se siekte is gediagnoseer nadat sy vir etlike weke las gehad het van hoes en brongitis wat, ongeag behandeling, nie wou opklaar nie. Bloed- en beenmurgtoetse het gevolg, en sy is op 1 April in Pretoria in die hospitaal opgeneem, waar sy vir agt dae lank aggressiewe chemoterapie moes ondergaan. Kort voordat sy met die tweede behandeling sou begin het sy infeksie opgedoen.

Die nag na haar verjaardag op Maandag, 25 April, was daar ‘n skielike insinking in haar toestand en 12:00 Maandagnag is sy per ambulans oorgeplaas na die intensiewe sorgeenheid in die kinderafdeling van die Unitas-hospiaal.

Die infeksie in haar longe het vinnig versprei. Die volgende middag is sy aan ‘n ventilator gekoppel, terwyl haar toestand steeds verswak het. Sy is kort voor middernag oorlede, terwyl haar ouers by haar gewaak het.

Die begrafnis was Saterdagoggend vanuit die N.G. Kerk Soutpansberg-gemeente.

Die Joubert-egpaar en Andrea se 11-jarige sussie, Carina, het vandeesweek besondere waardering uitgespreek vir die oorweldigende onderskraging van die kant van die hele plaaslike gemeenskap.

“Dit is so moeilik om spesifieke persone uit te sonder wat hierdie swaar pad vir ons help ligter maak het, maar ons wil graag die volgende noem: Retha en Dawid Serfontein, Johan en Marlene Calitz, Hannes en Celeste Badenhorst, Willem en Nalize Boshoff, dr. PhillipVenter, Jan en Sally Brink, Marietjie Barkhuizen, Tina Esterhuyzen, Ina van Gerve, Suzette Mulders, Inga Gilfillan, Jaco Kok, die Lantern Gastehuis, Die Kruiskomitee, Christelle Leonard en die Vroue Aksie van die N.G. kerk Soutpansberg-gemeente en baie dankie ook aan die gemeenskap van Louis Trichardt vir die letterlik honderde sms’e, boodskappe en gebede wat ons regop hou. Dankie ook vir so baie blomme, bemoediging en besoeke in hierdie tyd.”

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines