ADVERTISEMENT:

 

Kommer oor toename in onwettige arrestasies

 

News  Date: 06 May 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Toenemende onwettige arrestasies deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisie Diens is tans besig om onrusbarende afmetings aan te neem.

Die afgelope paar maande was daar letterlik hope sake wat deur die plaaslike hof teruggetrek moes word vanweë onwettige arrestasies. Slegs die afgelope twee weke was daar twee voorvalle waar inwoners onskuldig agter tralies moes gaan sit vanweë polisiebeamptes se gebrekkige kennis oor die wet.

‘n Inwoner het Sondag en Maandag in die polisieselle deurgebring, nadat hy sy buurman se dooie hond begrawe het wat voor sy erf gelê het. Die polisie het na gesprek met die buurman omgestap na die “beskuldigde” en hom meegedeel dat hy “ingevolge die Suid-Afrikaanse Konstitusie” aangekla word van dieremishandeling en dat hy gearresteer gaan word. Daarna is die “beskuldigde” vir twee dae in die polisieselle toegesluit, alvorens hy vrygelaat kon word nadat dit aan die lig gekom het dat sy arrestasie onregmatig was.

In nog ‘n geval is die eggenoot van ‘n verhoorafwagtende twee weke gelede vir ‘n dag lank toegesluit. Haar man, ‘n verhoorafwagtende in ‘n hooggeregshofsaak wat onder waarskuwing in die hof moes verskyn, het tydens etenstyd weggehardloop. Sy vrou is terug hof toe en het tydens die aanhoor van die saak die voorsittende beampte meegedeel dat haar man gevlug het. Hierop het die polisie haar summier toegesluit op klagte van regsverydeling. Sy moes ook later weer vrygelaat word toe dit aan die lig kom dat haar arrestasie onwettig was.

Voorvalle soos die voorafgaande laat baie vrae ontstaan oor polisie “vergrype” en hul kennis van die wet. In beide gevalle was hul optrede strydig met Artikel 40 van die Strafproseswet van 1977. Die Artikel gee duidelik riglyne ten opsigte van gevalle waar ‘n persoon wel deur ‘n vredesbeampte sonder ‘n lasbrief in hegtenis geneem kan word. ‘n Vredesbeamptes kan iemand sonder ‘n lasbrief in hegtenis neem:

* wat in sy teenwoordigheid ‘n misdryf pleeg of poog om te pleeg;

* wat uit wettige bewaring ontsnap het of poog om daaruit te ontsnap;

* wat enige huisbraakgereedskap of motorbraakgereedskap in sy besit het en wat nie in staat is om tot bevrediging van die vredesbeampte van sodanige besit rekenskap te gee nie;

* wat in besit gevind word van enigiets wat die vredesbeamptes redelikerwys vermoed gesteelde goedere te wees wat op oneerlike wyse verkry is;

* wat in die nag by ‘n plek in omstandighede gevind word wat redelike gronde verskaf om te vermoed dat so iemand ‘n misdryf wou pleeg;

* wat redelikerwys verdink word dat hy onwettiglik in besit is of was van vee of produkte soos omskryf in ‘n wet betreffende die diefstal van vee en produkte;

* wat redelikerwys verdink word dat hy ‘n misdryf pleeg of gepleeg het ingevolge die wet wat die vervaardiging, verskaffing, besit of vervoer van sterk drank of afhanklikheidsvormende medisyne of die besit of beskikking oor wapens en ammunisie reël;

* wat in ‘n dobbelhuis of by ‘n dobbeltafel in stryd met ‘n wet op die voorkoming of onderdrukking van dobbelary of gelukspele gevind word;

* wat die vredesbeampte opsetlik by die uitvoering van sy plig belemmer;

* wat betrokke was by, of teen wie ‘n redelike klagte ingedien is of geloofwaardige inligting ontvang is of ‘n redelike verdenking bestaan dat hy betrokke was by, ‘n handeling buite die Republiek gepleeg wat, indien in die Republiek gepleeg, as ‘n misdryf strafbaar sou gewees het, en waarvoor hy, kragtens ‘n wet betreffende uitlewering of voortvlugtige oortreders, in die Republiek in hegtenis geneem of in bewaring aangehou kan word;

* wat redelikerwys verdink word dat hy in stryd met ‘n wet wat die binnekoms of verblyf in die Republiek reël, ‘n verbode immigrant in die Republiek is;

* wat redelikerwys verdink word dat hy in gebreke gebly het om ‘n voorwaarde na te kom wat by die uitstel van die oplegging van vonnis of by die opskorting van die inwerkingstelling van ‘n vonnis ingevolge hierdie Wet opgelê is;

* wat redelikerwys verdink word dat hy in gebreke gebly het om ‘n boete of ‘n gedeelte daarvan op die datum te betaal wat by hofbevel ingevolge hierdie Wet bepaal is; en

* wat in gebreke bly om hom oor te gee sodat hy periodieke gevangenisstraf kan ondergaan wanneer en waar hy verplig is om dit te doen ingevolge ‘n hofbevel of ‘n wet wat op gevangenisstraf betrekking het.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines