

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 May 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die belangrike skakel wat die dorp het met die bevordering van ‘n kultuur van onderwys in Suider-Afrika, kom jaarliks in April onder die kollig.
Die dorp kan spog met die prestasie dat die heel eerste skoolgebou noord van die Oranjerivier in die negentiende eeu hier deur ‘n vêrsiende pionier opgerig is.
Op 22 April, 1836, is ‘n klein pale-en-rietdak skooltjie in gebruik geneem, wat hier by die dorp opgerig is, om voorsiening te maak vir die onderwys van kinders van die Louis Trichardt-trekgeselskap. Dit was die heel eerste skoolgebou noord van die Oranje, en weerspieël ‘n aspek van Louis Trichardt, die Franse Hugenote afstammeling, se veelsydige en versiende leierskapsprofiel, wat hom in vele opsigte onderskei het van ander leiersfigure van sy tyd.
Die oprigting van die skooltjie is indertyd moontlik gemaak deur die besondere welwillende verhouding met die toenertydse Venda-leier, Ravele Ramabulana, wat ‘n beskermde staanplek langs die huidige Dorpsrivier vir Louis Trichardt beskikbaar gestel het, waar lede van sy trek hulle kon tuismaak en tuine aanlê.
Op die terrein het Louis Trichardt die trekgroep se onderwysman, ene mnr. Daniel Pfeffer, opdrag gegee om ‘n geskikte struktuur vir die onderrig van die groep se kinders op te rig.
In Louis Trichardt se dagboek is die volgende inskrywing gemaak onder die datum Saterdag, 22 April, 1837: “Heb ouwe Daniel de kinderen in de school gezit.”
In 1994 het die Rapportryerskorps van Louis Trichardt, in samewerking met die Stadsraad van Louis Trichardt, ‘n gedenksteen onthul om hierdie geskiedkundige gedenkwaardigheid te gedenk. Die gedenksteen ter nagedagtenis aan Louis Trichardt se besonderse baanbrekerswerk op die gebied van die onderwys in die noorde van Suid-Afrika is opgerig digby die nasionale monument wat die plek aandui waar die historiese ontmoeting in Augustus 1837 plaasgevind het tussen Louis Trichardt, sy seun Karel, hul gids Seloer, Portugese askaries Antonio en Lorenzo, Gabriel Buys en Sjangaans vanaf die fort by Lorenco Marques. Die ontmoeting was deel van die voorspel tot Louis Trichardt se baanbrekers ontginning van ‘n handelsroete vanaf die Soutpansbergse binneland na die Ooskus, aan die Indiese Oseaan.
Sy epiese tog na die oseaan is onderneem met die welwillende samewerking van al die betrokke inheemse stamme, wat aan hom en sy trek ‘n veilige deurgang verseker het langs ‘n roete wat hulle by hom aanbeveel het. Louis Trichardt het sy eggenote en verskeie lede van sy trek langs die roete verloor weens malaria.
Hyself is by sy bestemming, Lorenco Marques, (die huidige Maputo) oorlede. In 1898 is besluit om op die historiese ontmoetingsplek onder die Soutpansberg ‘n dorp aan te lê wat na die welwillende en vêrsiende pionier Louis Trichardt, vernoem sou word.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
