

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 May 2005
POLOKWANE – Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU–SA Noordstreek is dankbaar dat boere in die provinsie droogtehulp ontvang, maar sê hy is jammer dat wildboere totaal van die skema uitgesluit is.
Mnr. Joubert het kommentaar gelewer op die regering se “Droogtehulp Bystand Skema vir Kommersiële Veeboere” wat op Vrydag, 22 April, hier bekend gestel is.
Die skema erken dat die 2004/5 reënval maar tussen 10% en 30% van die gemiddelde tydens vorige jare was. Met die abnormale hittegolf gedurende dieselfde tydperk, het die gehalte van weiding en die beskikbaarheid daarvan drasties agteruitgegaan. Tot so ‘n mate dat boere in die areas nie genoeg weiding tot die volgende reënseisoen het nie, en moet hulle vee voer. Vir die meeste boere is hierdie hoë koste nie haalbaar nie.
Die skema maak voorsiening om boere by te staan om die droogte finansieel te oorleef. Dit maak ook voorsiening dat ‘n kern teëlkudde gedefinieer word as een derde van die toegelate vee getalle waarmee geboer kan word, bereken volgens die langtermyn dravermoë van die plaas, maar daar is ‘n beperkings. Die staatsbydrae vir boere word beperk tot 30 grootvee eenhede vir die kernkudde, ongeag die dravermoë van die plaas.
Bystand is beskikbaar ten opsigte van ‘n rabat op die vervoerkoste van voer, ‘n rabat op tolgelde vir die vervoer van voer en ‘n provinsiale/nasionale regeringsbydrae tot die instandhouding van ‘n kern teëlkudde. Betalings is onderhewig aan die beskikbaarheid van staatsfondse.
Mnr. Joubert was egter ongelukkig oor die feit dat wildboere uitgesluit is uit die skema. Die argument dat die wildboer die verantwoordelikheid van die Departement van Omgewingsake is, is volgens hom slegs ‘n skuiwergat wat gebruik word om wildboere by die skema uit te sluit.
“Wildboere is, net soos ander veeboere, ook werkskeppers en voedselvoorsieners vir die burgers van ons land. Wildboere het ook ‘n ongelooflike stimulerende effek op die ekonomie as die inkomste van buitelandse valuta in gedagte gehou word,” het mnr. Joubert gesê.
Mnr. Joubert het veeboere uitgenooi om alle distrikskantore van TLU-SA en die TLU-SA se streekkantoor te skakel vir verdere inligting en aansoekvorms by tel. (015) 297 3749.

ADVERTISEMENT:
