

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 May 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Van watter belang is die Amerikaanse stad Los Angeles vir ons en waarom behoort elke verantwoordelike plaaslike gesin kennis te neem en betrokke te raak by wat daar in Los Angeles besig is om te gebeur?
Skokfeite, tesame met opwindende verwikkelinge en ‘n dringende nuwe perspektief het vandeesweek aan die lig gekom in ‘n onderhoud met Colette Joubert, wat die afgelope 14 maande in Los Angeles was en eersdaags weer terugkeer daarheen.
Colette is tans terug in haar tuisdorp vir ‘n kort blaaskansie om by haar familie te kuier en weer asem te skep, na ‘n buitengewone program wat nou voltyds haar volledige toewyding in Los Angeles verg.
Vir etlike jare al hou Colette noukeurig rekord van duidelike rigtingwysers wat sy op ‘n buitengewone wyse ontvang. Op sterkte hiervan is sy 14 maande gelede na die VSA en na Los Angeles – “Die groot stad, vanwaar ‘n beduidende invloed wêreldwyd en ook tot in die eenvoudigste woning in Louis Trichardt uitgeoefen word.”
“Dit was eenvoudig ‘n stap wat ek in geloof moes neem. Maar uit die staanspoor was die hand van die Here duidelik in al die deure wat geopen het.”
Sedert haar aankoms in ‘n wildvreemde, duur, groot stad waar sy niemand geken het nie, het sy in elke opsig ‘n groter voorsienigheid en helder leiding ondervind.
Sy is na Los Angeles, diep onder die indruk van die moreel verderflike invloed wat daar met behulp van rolprent- en TV-produksies vanaf ‘n plek soos Hollywood uitgaan en met die dringende besef dat daar ‘n hartsverandering in die oord moet plaasvind onder skrywers, vervaardigers en verspreiders van rolprente.
“Daar is ‘n stem wat vanaf Hollywood praat met alle mense. Dit is ‘n stem wat die naam van die Here ydellik gebruik en beswadder, wat soekende jongmense bombardeer met wanpersepsies oor moraliteit en losse verhoudinge. Twyfelagtige rolmodelle word verheerlik en as navolgenswaardige voorbeelde aan hulle opgedwing.
“‘n Nuwe stem, nuwe rolmodelle en ‘n hernieude voorbeeld van hoop is dringend nodig. Jongmense, alle mense, moet weer onder die besef kom dat hulle hulle nie deur die TV nie, maar deur die Here moet laat lei om vir hulle ‘n visie te gee en die oorweldigende leegheid in hul lewens en samelewing sinvol te vul,” sê Colette.
Sy is steeds beskeie en kinderlik verwonderd oor die wyse waarop deure sonder haar toedoen oral vir haar geopen het, en sy stap vir stap die hand van die Here kon sien in alle gebeure, nadat sy in geloof die eerste stap gedoen het.
Uitnodigings deur verskeie kerkgenootskappe is gevolg deur TV-optredes oor vyf verskillende stasies en ook ‘n optrede in die Los Angeles Convention Centre. Tot met haar vertrek was daar ‘n vol program van optredes.
Sy besef egter dat dit nie net die kerke is nie, maar die skrywers en rolprentvervaardigers en -verspreiders is wat bereik moet word. Ook dit is nou reeds besig om te gebeur. ‘n Vervaardiger wat ‘n ateïs is, het nadat hy haar gehoor het gesê: “Ek hou nogal van haar. Sy is ‘n vrou wat bid en wat reguit praat.”
Daar is onder rolprentmakers wat sy ontmoet het toenemend belangstelling in die rolprentvervaardigingsmoontlikhede in Suid-Afrika.
Colette vra dringende voorbidding vir Los Angeles en vir Hollywood. Sy kon op verskeie konferensies reeds ‘n oproep doen vir ‘n nuwe stem en ‘n nuwe voorbeeld vanuit hierdie rolprentstad. Sy sê sy is getref deur die geestelike honger en leegheid onder die welvarende inwoners, waarvan sommige inderdaad soekend is na nuwe sin en visie. “Selfs die kerke in Hollywood is reeds afgestomp en neem alles maar vanselfsprekend aan. Maar daar is tog ook positiewe tekens. Daar is ook onder die materieel- voorspoedige mense ‘n groot begeerte om armoede elders te help verlig.”
Letterlik duisende jongmense stroom met ideale en verwagtinge na Hollywood. Volgens Colette is daar tans reeds 100 000 geregistreerde akteurs in Hollywood, waarvan net tien persent oor agente beskik.
Mense wat belangstel om deel te neem aan ‘n wêreldwye aksie vir voorbidding vir Hollywood kan in verbinding kom met die e-pos adres: [email protected].
“Hierdie voorbidding is vir elke gelowige inwoner van ons dorp ook belangrik. Die besoedelende stem wat vanuit Hollywood uitgaan raak en verwring die gedagtes, drome en ideale van elke kind wat toegang het tot ‘n televisie.”
Colette is tussendeur besig om te werk aan ‘n boek en is dringend opsoek na ‘n bekwaam tikster met ‘n goeie kennis van Engels wat haar hiermee kan help.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
