

ADVERTISEMENT:

Generic image
News Date: 13 July 2015
Die Minister van Waterwese en Bosbou sal R2,9 miljoen moet opdok as skadevergoeding aan ‘n 14-jarige inwoner van Levubu, nadat die departement 100% aanspreeklikheid aanvaar het vir die ernstige beserings wat die kind in 2012 opgedoen het.
Die departement het op 17 Junie buite die Noord-Gauteng Hooggeregshof geskik in die saak tussen die nou 14-jarige Lourika Schutte, ‘n Graad 8-leerling van Hoërskool Louis Trichardt, teen die Minister van Waterwese en Bosbou. Plaaslik het prokureur Steffie van der Westhuisen vir die Schutte-familie opgetree, met korrespondent prokureur Greyling Erasmus in Pretoria.
Lourika is op 11-jarige ouderdom ernstig beseer toe die swaaie by die Departement van Waterwese se kamp in Levubu inmekaar getuimel het. Die staalstruktuur het op 18 Maart 2012 bo-op haar bo-bene geval en albei femurbene gebreek.
Lourika het ten tye van die ongeluk by ‘n vriendin van haar in Levubu gekuier. Haar ouers was in Pretoria vir haar oupa se begrafnis. Lourika se vriendin was saam met haar op die swaai toe dit inmekaar gestort het. “Weet jy wat het hulle [die departement] gedoen? Die ongeluk het Sondagmiddag gebeur en die volgende oggend toe Lourika se pa [Johan] terugkom om foto’s te neem, toe is die hele parkie verwyder,” het Van der Westhuizen Maandag aan die Zoutpansberger gesê. Daar was geen waarskuwingsborde by die parkie om die publiek te waarsku dat die speelterrein gevaarlik was weens 'n swak toestand nie en die publiek het vrye toegang tot die parkie gehad. “Die swaai se ysterpale het letterlik onder afgeroes … Toe hulle [die kinders] swaai, het die beweging die laaste bietjie van die pale laat afbreek - morsaf, onder op die grond. So, die parkie is nooit in stand gehou nie,” het Van der Westhuizen gesê.
Lourika se pa het na die ongeluk ‘n siviele eis teen die Departement van Waterwese en Bosbou ingestel. Die hofsaak moes egter eers ‘n proses deurloop. Eise ten opsigte van skadevergoeding het twee hofdatums, die eerste om die meriete van die saak te bepaal en die tweede om te besluit oor die kwantum (vergoeding in randwaarde). “Aanvanklik het hulle [die departement] ons ‘n aanbod gemaak dat hulle 60% aanpreeklikheid aanvaar … Die oggend toe ons voor die hof se deur staan, toe sê hulle hulle erken 100% nalatigheid,” het Van der Westhuizen gesê. Dit was tydens die eerste hofdatum in Maart verlede jaar.
Met die departement se erkenning van 100% aanspreeklikheid moes daar besluit word oor die kwantum. Om ‘n bedrag te bepaal is verskeie mediese deskundiges ingeroep om verslae oor die aard van Lourika se beserings en trauma op te stel. “So, wat ons ookal op die kwantum kon bewys, sou hulle ons dan 100% moes gee,” het Van der Westhuizen gesê.
Die saak om oor die kwantum te besluit is op die hofrol geplaas vir drie dae vanaf 15 Junie, uitgesluit die vakansiedag op 16 Junie. Teen die tweede dag van die verhoor, op 17 Junie, het twee deskundiges, me. M. Mills (‘n opvoedkundige sielkundige) en mnr. E. Bloye (‘n kliniese sielkundige), reeds getuig, met ‘n derde getuie, dr. M. Malaka (‘n bedryfsielkundige), in die hof gereed om te getuig. Voor dr. Malaka egter kon getuig, het die departement besluit om buite die hof te skik.
“Dit is ‘n goeie skikking. Ons is baie tevrede daarmee,” het Van der Westhuizen gesê.
As deel van die skikkingsbedrag, wat binne 30 dae ná die hofbevel betaal moet word, moet al die deskundige verslae en die dokters se kostes betaal word, asook al Lourika se mediese kostes tot op hede. Hulle moet ook die kostes betaal vir die oprigting van ‘n trust waar die geld veilig gehou kan word totdat Lourika 18 word. “Haar toekomstige kostes is vir ons van groot belang hier,” het Van der Westhuizen gesê. ‘n Groot deel van die skikkingsbedrag sal gaan ten opsigte van laasgenoemde. Lourika was ‘n belowende jong danseres en sal nooit weer kan dans nie. Sy moes letterlik van vooraf leer loop ná die ongeluk.
Intussen het Van der Westhuizen aangedui dat die ander meisie, Lourika se vriendin, se ouers haar verlede jaar ook opdrag gegee het om ‘n siviele eis teen die departement in te dien. “Sy [die vriendin] het so geskrik, sy het nie eers agtergekom sy is beseer nie. Hulle het dit eers later agtergekom toe sy inmekaar sak. Sy moes hardloop om iemand te gaan roep om vir Lourika te kom help. Basies toe Lourika in ‘n voertuig gelaai is om haar hospitaal toe te bring, het die kind inmekaar gesak. Toe is daar eers agtergekom sy het ook seergekry,” het Van der Westhuizen gesê. Die ander meisie het albei haar maermerries gebreek.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
