

ADVERTISEMENT:

Vriende en familie het verlede Donderdagoggend ingespring en die brand in Flippie Greyling se motorhuis met swembadwater geblus.
News Date: 13 July 2015
'n Oproep om jou in te lig dat daar 'n brand by jou huis is, is nie iets wat mens graag kry terwyl jy met vakansie is nie.
Die Greylings van Louis Trichardt, Flippie en Annette, en haar suster, Cecelia Swanepoel, was met vakansie by die see, salig onbewus dat vriende en familie besig was om ‘n brand by hulle huis te bestry vroeg die oggend. Vriende wat ongeveer vyfuur Donderdagoggend, 2 Julie, verby hulle huis in Andersonstraat gery het, het gesien hoe vlamme by hulle motorhuis uitborrel.
Flippie se seun, ook Flippie, was vinnig op die toneel en het die brandweer ontbied. Die eerste wat hulle gedoen het, was om die vlamme onder beheer te kry voordat die brand na die huis kon versprei.
Terwyl die brandweerwa ekstra water moes gaan skep (dit was ‘n lang storie weens watertekorte) het Flippie jnr., sy kinders, vriende, bure en dorpswaglede ingespring met al wat ‘n leë houer was. Water van die swembad agter die huis is aangedra en ‘n mense-tou is gemaak, sodat die brand van alle kante bestry kon word. Weens die elektrisiteit wat uitgesny het tydens die brand, kon daar nie gebruik gemaak word van die huis se boorgat om water te pomp nie.
Teen die tyd wat die son opgekom het, was die brand onder beheer en die huis veilig. Dieselfde kon nie van die motorhuis gesê word nie. Dit is totaal in puin gelê. Flippie se nuwe bakkie en sy skoonsuster se motor het ook in die slag gebly, saam met al Flippie se visvanggoed.
Flippie-hulle het hulle vakansie kortgeknip en was die naweek terug om die polisie en hulle versekeringsmaatskappy te help met die ondersoek. Hy het Dinsdag aan die koerant bevestig dat ‘n forensiese verslag deur die polisie saamgestel word. Voorlopig wil dit voorkom asof ‘n elektriese fout wat in die motorhuis ontstaan het dalk die oorsaak van die brand was.
Die presiese omvang van die skade moet ook nog bepaal word, veral nadat daar agtergekom is dat die huismuur naaste aan die brand ook gebars het.
Flippie is net dankbaar vir almal wat kom help het, veral vir sy seun. “Baie, baie dankie vir almal wat kom help het. Ek het gehoor daar was baie mense - party ken ek nie - maar dankie aan almal.”
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
