ADVERTISEMENT:

 

Die sewe-maande swanger mev. Teresa Senekal (regs) en haar skoonma, mev. Madie Senekal, wat verlede week helder oordag voor hul woning in Rietbokstraat oorval is.

Ma en skoondogter helder oordag oorval voor huis

 

News  Date: 13 May 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – “Mense aanvaar te veel dinge as vanselfsprekend. ‘n Mens sal definitief meer oplettend moet begin raak.”

So het mev. Madie Senekal gereageer, nadat sy en haar skoondogter, mev. Teresa Senekal, verlede Vrydag, 6 Mei, helder oordag voor hul huis in Rietbokstraat deur ‘n gewapende man oorval is. Die sewe-maande swanger Teresa sê sy sukkel steeds om die traumatiese gebeure te verwerk.

Ma Madie het omstreeks 12:50 vir Teresa huis toe geneem, nadat sy vroeër vir bloedtoetse moes gaan. Onderweg huis toe het die twee ‘n wit Opel Monza opgemerk wat voor hulle ry. Die Monza het egter ‘n paar straatblokke voor hul woning weggedraai.

By die huis aangekom, het Teresa die huissleutel gesoek. Intussen het die Monza vanuit Tshirululunistraat in Rietbokstraat afgedraai.

“Ek het gesien die wit kar stop agter ons oorkant die straat, maar het gedink dit is die buurman se seun wat uitklim om met ons te praat,” vertel Madie.

Teresa het net uit hul voertuig geklim toe ‘n man vir haar skreeu: “Kom hier!” Die man se dreigende lyftaal het Teresa dadelik weer in die voertuig laat inklim. Sekondes later het die man by haar gestaan. Tog was sy steeds onbewus van die pistool slegs sentimeters van haar kop. Madie het egter die pistool raakgesien.

“Toe ek die pistool sien het ek kliphard geskreeu ‘Nee!’ Die man het toe Teresa se handsak gegryp en dood rustig teruggestap na sy voertuig. Ek kan nie met sekerheid sê nie, maar daar was ten minste drie ander persone ook in die voertuig,” sê Madie. Omdat sy so klein is, sê Madie, vermoed sy dat die man haar nie gesien het nie en seker gedink het dit is ‘n buurman of iemand wat op hom skreeu.

Nog totaal oorbluf deur die gebeure het Madie en Teresa hulp gaan ontbied by ‘n buurvrou. Steeds het die verdagtes rustig die straat afgery – sonder enige haas of spoed.

Alhoewel Teresa die voertuig se registrasienommer kon afneem, het dit die polisie ondersoek in geen mate gehelp nie. Later is daar uitgevind dat die voertuig ‘n paar dae tevore in Boksburg as gesteel aangemeld is.

“Ek dink nie die mans was daarop uit om spesifiek ons aan te val nie, maar eerder ‘n geval van opportunisme,” sê Madie. Sy gee gelyk dat die stil, rustige aard van die buurt waarin hulle woon met min verkeer dalk ook van hulle ‘n sagte teiken gemaak het.

Madie het na die voorval mense versoek om uit hul gemaksone te kom en daadwerklik te begin ag slaan op wat om hulle gebeur. Sy sê dat verlede Vrydag se gebeure duidelik daarvan getuig dat ‘n mens nêrens meer veilig is nie. Hulle is egter dankbaar dat hulle lewe en erken dat dinge baie erger kon uitdraai. Hulle kon die vuurwapen wat in die roof gebruik is later deur middel van foto’s uitken as ‘n Russies-vervaardigde Tokarev.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines