

ADVERTISEMENT:

Generic image
News Date: 17 July 2015
‘n Man van Louis Trichardt is swaar gestraf omdat hy kaal uitgetrek het by ‘n bekende restaurant in die dorp.
Die 40-jarige Allan Guthrie het verlede Donderdag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op ‘n klag van openbare onsedelikheid. Hy het op 28 Maart vanjaar al sy klere laat waai terwyl hy saam met vriende gekuier het by Die Grasdak Restaurant en Gastehuis.
Hy is deur die Makhado Polisie gearresteer toe hy nie gehoor gegee het aan die eienaar van die Grasdak, me. Annette du Preez, se versoek om sy klere weer aan te trek nie. Die polisie se hulp is ingeroep, nadat Du Preez Guthrie met ‘n skokstok (taser) bygekom het.
Guthrie het skuldig gepleit en in sy pleitverduideliking erken dat hy dié betrokke aand te diep in die bottel gekyk het. Hy en nog ‘n paar ander vriende was by die Grasdak gewees as deel van ‘n rampartytjie.
Volgens inligting verskaf aan die koerant was daar die betrokke aand ook ‘n groep vrouens wat ‘n henpartytjie gehad het by die Grasdak. Guthrie het glo sy klere uitgetrek om ‘n ontkleedans vir die vroue uit te voer.
Sy prokureur het gesê Guhtrie het opregte berou getoon vir sy dade, en het vir ‘n opgeskorte vonnis gevra.
Die staatsaanklaer, Tshepo Ndzobi, het egter gesê dat Guthrie se aksies die aand getoon het dat hy geen maniere het nie. “Daar was ander vroue dié aand ook in die kroeg gewees, en hy het geen ag daarop geslaan nie,” het Ndzobi gesê. Sy het verder gesê dat Guthrie nie daaraan gedink het dat sy aksies skade aan Du Preez se besigheid kon doen nie, en gevra dat Guhtrie direkte tronkstraf opgelê moet word. “Die klag teen hom is baie ernstig ... hy moet gevangenisstraf opgelê word sodat hy in die tronk kan leer om sy broek opgezip te hou.”
Landdros Marcelle Pieterse het Guthrie se pleit aanvaar en tong in die kies opgemerk dat sy gedog het sy al alles in die lewe gesien het. “Die hof hoop net nie dit is ‘n gewoonte van u, as u drink, dat u ontaard in hierdie leeuveltiertertdanser nie,” het Pieterse gesê.
“Dis onaanvaarbaar vir enige ordentlike mens wat na ‘n restaurant toe wil gaan ... want baie mense sal sê ‘julle moet Grasdak vermy’... mense gee aan ‘n plek ‘n slegte naam ... en u val nou ook in daardie kategorie om só op te tree in die aansig van eerlike, opregte mense,” het Pieterse gesê.
Pieterse het ook gesê Guthrie se gedrag was laakbaar omdat dit aanleiding gegee het tot ‘n aanrandingsaak. ‘n Vriend, Christoffel Wolvaardt, wat tussenbeide getree het toe Du Preez vir Guthrie gevra het om sy klere aan te trek, het na bewering Du Preez se duim gebreek. Wolvaardt sal in Augustus op dié klagte in die hof verskyn.
Pieterse het Guthrie gevonnis tot ‘n boete van R8 000 of direkte gevangenisstraf van ses maande. Hy is ook ‘n verdere ses maande tronkstraf opgelê wat vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort is.
“Die bal is nou in jou hande ... trap maar fyn,” het Pieterse gesê.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
