

ADVERTISEMENT:

In aanloop tot die skietery by die Labuschagnes se plaaswoning, waartydens een inbreker doodgeskiet is, was daar twee keer by die huis ingebreek met laaie en kaste wat uitgegooi is op soek na waardevolle items. Foto verskaf.
News Date: 20 July 2015
‘n Bekende familie van Louis Trichardt leef nou in vrees, nadat hulle die teiken geword het van boosdoeners op hulle plaas net buite die dorp.
Dit is ‘n skrale troos vir die Harris- en Labuschagne-families dat een van die boosdoeners doodgeskiet is - hulle voel steeds nie veilig in hul eie huis nie. Hulle woon op ‘n plaas sowat 15km uit op die Vivo-pad. Freddie en Kimmy Harris woon saam met Kimmy se ouers, dr. Lappies Labuschagne en sy vrou Kim (Snr).
Die hele familie het verlede Vrydagaand (10de) gaan uiteet, juis om uit die huis uit te kom, nadat daar die laaste paar weke drie keer by hulle plaashuis ingebreek is en hulle plaaswerkers met ‘n mes aangeval is.
Kimmy het vandeesweek met die Zoutpansberger gepraat.
Die eerste voorval het op Saterdag, 27 Junie, plaasgevind toe daar by haar huis ingebreek is terwyl sy gou ‘n paar takies in die dorp afgehandel het. Niks is gesteel nie, maar, sê Kimmy, sy vermoed die skelms was nog in die huis toe sy geparkeer het en het haastig gevlug.
Kort hierna was daar ‘n mislukte aanval op hulle plaaswerkers gewees, toe rowers hulle met ‘n mes gedreig het op Donderdag, 2 Julie. Kim snr. kon hierdié aanval afweer deur ‘n waarskuwingskoot af te vuur.
Helaas was dit nie die laaste sien van die booswigte nie. Op Saterdag, 4 Julie, is daar ‘n tweede keer by Kimmy se huis ingebreek terwyl sy en haar dogter by Freddie gaan kuier het waar hy gewerk het op ‘n ander plaas.
‘n Geplunderde huis het haar met haar terugkeer begroet. Die rowers het feitlik al die sekuriteitshekke oopgebreek om in te kom, en boonop al die kerse opgebrand om hul vuilwerk te doen. ‘n Ingeboude kluis is deur die rowers oopgeforseer deur eers die betonmuur weg te kap en toe ‘n gat te kap aan die kant van die kluis met ‘n byl.
Al die Harrisse se wapens is netjies uitgepak, maar die rowers het net ‘n pistool gesteel. Hulle het ook al Kimmy se juwele, wat in die kluis toegesluit was, gevat. Van die kinders se klere is ook gesteel. Dit was hierdie voorval wat Kimmy en haar dogter gedwing het om by haar ouers se huis te gaan bly. “Ek voel glad nie gerus nie ... al die hekke is òf gebreek, òf kan nie sluit nie ... ek kan die sterre sien deur die gat waar hulle by my huis se grasdak ingebreek het ... ons voel nie veilig nie,” het Kimmy gesê.
Sy sê daar is ‘n sterk vermoede dat die aanvalle toegeskryf kan word aan een groep boosdoenners, nadat werkers die spore gevolg het. Noodgedwonge is albei gesinne se alarmstelsels ook herstel en opgeskerp na die aanvalle.
Ongelukkig het dit nie die booswigte afgeskrik nie. Wat Vrydagaand se aanval betref, het hulle nog nie eens klaar geëet nie, toe ontvang hulle ‘n oproep dat die alarm by die plaashuis geaktiveer is - hierdie keer in haar ouers se huis.
Freddie en sy seun het deurgejaag plaas toe om te gaan ondersoek instel, en glo die rowers op heterdaad betrap. Al wat Kimmy kon bevestig teen druktyd was dat die rowers, vier mans, opgeneem is op die kamerastelsel en dat een doodgeskiet is. Die Makhado polisie ondersoek die voorval, saam met die ander drie voorvalle. “Ons is bewus van die voorval, en het gevind dat die verdagte ‘n buitelander is wat nie ‘n profiel het nie,” het die bevelvoerder van die plaaslike polisiestasie, kol. Francois Ramovha, dié week in ‘n persverklaring gesê.
Teen druktyd kon geen arrestasies bevestig word nie en intussen leef Kimmy en haar familie steeds in vrees vir wanneer die volgende inbraak of aanval gaan plaasvind.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
