ADVERTISEMENT:

 

Dapper jong boer fnuik plaasaanval

 

News  Date: 20 May 2005

 

MARA – ‘n Gewapende aanval is Dinsdag hier op die plaas Goedgedacht van mnr. Francois Fick deur jeugdige wakker weerstand en die blitsige reaksie van verskillende steungroepe afgeweer.

Die steungroepe, met die hulp van die polisie se honde-eenheid, het een van vermoedelik vyf verdagtes na ‘n massiewe lug- en grondsoektog aangekeer. Meer as honderd mense, wat boere van Louis Trichardt en Vivo ingesluit het, het in een stadium aan die soektog deelgeneem.

‘n Polisievliegtuig en ‘n private gyro-vliegtuig, asook verskeie eenhede van die SAPD, het steun verleen. ‘n Voertuig wat vermoedelik deur ‘n groep aanvallers gebruik is, is opgespoor. Die soektog, wat oor vier plase gestrek het, is by tye erg bemoeilik deur die onverwagte reënbuie in die Soutpansberg.

Die gyro-vliegtuig wat mnr. Floris van Wyk vir die soektog beskikbaar gestel het, is in die gure weerstoestande beskadig, maar sover bekend is niemand ernstig beseer nie.

‘n Werknemer van mnr. Fick, mnr. Gerhard Holtzhausen (22), wat die eerste teiken van die aanvallers was, het deur sy wakker en onverskrokke reaksie een van die aanvallers ontwapen en nog ‘n moontlike plaastragedie ternouernood afgeweer.

Mnr. Holtzhausen, wat die afgelope anderhalf jaar op die plaas werk, sê ‘n gewapende man het Dinsdagoggend omstreeks 11:20 by die voordeur van sy woning ingestap en ‘n pistool oorgehaal.

“Ek het hom vasgegryp en ‘n gestoei het ontstaan, by die voordeur uit en met die trappe af. In die gestoei het ek daarin geslaag om die pistool van hom af te neem. Hy het na sy vriende geroep om hom te kom help, maar toe hulle bemerk dat ek die wapen afgeneem het, het hulle weggehardloop. Ek het met die pistool wat ek by die aanvaller afgevat het op hulle gevuur, maar die wapen het gestoor. Ek het op die Mara noodradiokanaal hulp ontbied. Die mense het onmiddellik reageer.”

Boere van die Mara-omgewing, tesame met die Mara polisie en steunkringeenhede van elders, was spoedig op die toneel. Van die boere wat deel was van die soekgeselskap het hoë lof vir die hondehanteerder en spoorsnyer van die SAPD wat waardevolle hulp verleen het.

“Sê tog dankie vir Louwtjie en Petrus van die honde-eenheid en vir die klomp boere van Louis Trichardt en Vivo wat kom help het,” het hulle gesê.

Voorlopige gegewens dui daarop dat nòg die voertuig nòg die pistool gesteel was. Intussen word die voorval deur die polisie ondersoek.

Dinsdag se aanval volg slegs ‘n paar maande na die aanval op mnr. Gillie Fick van ‘n buurplaas. Mnr. Fick is by sy woning deur ‘n groep van ses mans oorrompel, aangerand en van sy bakkie beroof. Danksy die flinke optrede van die plaaslike boeregemeenskap en die polisie is die ses verdagtes aangekeer. Die groep was vermoedelik deel gewees van ‘n sindikaat wat uit Tembisa opereer. Tydens die aankeer van die mans is drie gesteelde vuurwapens teruggevind.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines