ADVERTISEMENT:

 

Die gepantserde voertuig waarmee die sekuriteitsfirma die geld sou kom oplaai het, staan voor die misdaadtoneel waar ‘n wag deur ‘n rower oorrompel is net voordat hy by die voertuig was.

Ongelukkigheid oor "blatante" rooftog

 

News  Date: 20 May 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die plaaslike tak van VhaVenda Bricks in Meyerstraat het Maandagoggend die jongste slagoffer geword van ‘n gewapende roof.

‘n Rooi Honda Ballade met swart-getinte vensters is kort voor die rooftog in die omgewing opgemerk deur personeel en kontrakteurs van die naby geleë Zoutpansberg Meule. Volgens aanduidings is die rooftog duidelik vir ‘n geruime tyd vooraf beplan, aangesien die rowers presies geweet het wanneer Vha Venda Bricks se geld deur die sekuriteitsfirma opgelaai sou word.

Een van die sekuriteitsbeamptes het uitgeklim om die geld te gaan afhaal. ‘n Verdagte man met ‘n donkerbril het net na hom by Vha Venda Brick’s ingestap en die werknemers gevra vir ‘n kwotasie op bakstene.

Intussen het die verdagte rooi Honda voor die gebou verbygery en net ‘n entjie verder tot stilstand gekom. Toe die sekuriteitsbeampte by die deur uitstap met die geld, het die verdagte man met die sonbril hom van agter oorrompel, hom met ‘n pistool deur die gesig geslaan, die geld gegryp, weggehardloop en in die Honda gespring.

Die sekuriteitsbeampte het al bloeiende by VhaVenda Bricks in gehardloop en geskreeu dat hulle dadelik die polisie en sy werkgewer moet kontak. Geskokte kollegas van die sekuriteitsbeampte moes hulpeloos toekyk hoe die rowers wegkom, aangesien hulle nie gewapen was nie.

Die beseerde sekuriteitsbeampte is hospitaal toe geneem vir mediese behandeling. Met die polisie se aankoms op die toneel is getuienis ingesamel en verklarings geneem. Die soektog na leidrade het slegs ‘n 9mm-rondte naby die toneel opgelewer wat vermoedelik deur die aanvaller verloor is. Na wat vasgestel kon word het die rowers met sowat R180 000 weggekom. Dit is ook onseker hoeveel rowers by die roof betrokke was.

Die roof het omstanders stomgeslaan met die blatante manier waarop hulle die rooftog uitgevoer het. Alhoewel die identiteit van die rowers onbekend is, het talle op die toneel genoem dat hulle al voorheen die verdagte voertuig in die dorp opgemerk het.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines