ADVERTISEMENT:

 

Verkeersirkel op N1 aangebring

 

News  Date: 06 August 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die aanbring van ‘n verkeersirkel by die Stubbsstraat/N1-kruising beloof om welkome verligting te bring ten opsigte van verkeersopeenhopings by dié kruising, veral gedurende spitstye.

Die verkeersirkel is reeds by die kruising uitgemeet. Aanvanklik sal die vierrigting-stopstrate nie verwyder word nie, totdat die nodige verkeerstekens aangebring kan word om motoriste te waarsku van die sirkel. Volgens aanduidings sal die sirkel binne die volgende paar weke in werking gestel word, waarna die binnekring later verhoog sal word.

Die aanbring van die verkeersirkel is ‘n direkte uitvloeisel van die ongeluk waarin twee jong inwoners van die dorp in Maart vanjaar dood is, nadat ‘n wegholvragmotor in die voertuig waarin hulle op reis was in die kruising vasgejaag het.

Volgens mnr. Alex van Niekerk, projekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap wat verantwoordelik is vir die projek, is die verkeersirkel een van die opsies wat oorweeg word om die probleem van ongelukke by die kruisings aan te spreek. Hy sê dat hulle die lewensvatbaarheid van die sirkel sal toets en as dit nie die gewenste uitwerking het nie, sal daar na ander alternatiewe gekyk word. Wêreldwyd, sê mnr. Van Niekerk, word die gebruik van verkeersirkels verkies bo die gebruik van vierrigting-stopstrate. Dit is ‘n gewilde alternatief, aangesien dit nie net die verkeersvloei beter reguleer nie, maar ook voertuigbestuurders forseer om stadiger te ry.

Mnr. Van Niekerk het genoem dat die verkeersirkel nie noodwendig die ongelukke ten opsigte van wegholvragmotors sal stop nie. Hy sê hulle wil egter poog om ‘n situasie te skep waar, sou daar ‘n ongeluk wees, dit op stadige spoed plaasvind, omdat almal geforseer word om stadiger te ry. Daar sal ook minder voertuie in die ongelukke betrokke wees, vanweë die vryvloei van verkeer, wat opeenhoping verminder.

“Mense moet onthou ons is ‘n padowerheid en ons is nie in beheer van vragmotors nie,” sê mnr. Van Niekerk. Hy het genoem dat dit die verkeersowerhede se verantwoordelikheid is om die padwaardigheid van voertuie na te gaan. In dieselfde asem sê Van Niekerk dat daar ‘n wanpersepsie by mense is dat die Nasionale Pad Agentskap swaar vragmotors oor die berg forseer.

“Die verkeersowerhede mag so iets doen, maar ons doen dit nie,” sê hy.

Buiten vir die verkeersirkel, gaan daar volgens beplanning weer verkeersligte aangebring word by die N1/Songozwistraat-kruising en die N1/Rissikstraat-kruising. In die verlede was die verkeerslig by eersgenoemde kruising rede tot hewige beswaar. Die verkeersligte is deur die plaaslike Raad aangebring, ten spyte van talle kundiges se mening dat verkeersligte, in teenstelling met vierrigting-stopstrate, ernstiger ongelukke tot gevolg het. Dit was eers na die dood van ‘n prominente inwoner van die dorp in ‘n botsing met ‘n wegholvragmotor, dat die Raad weer besluit het om die verkeersligte te verwyder. Mnr. Van Niekerk sê dat, anders as die verkeersligte wat destyds deur die munisipaliteit opgerig is, is die huidige opgegradeerde kruisings spesifiek ontwerp vir verkeersligte. Dit verseker dus ‘n veiliger aanwending van verkeersligte.

Al drie kruisings sal ook belig word. Die koste van die beligting, asook die aanbring van die verkeersligte, sal befonds word met die hulp van die plaaslike munisipaliteit. Mnr. Van Niekerk het gesê dat dit net billik is om van die munisipaliteit te verwag om te help met die finansiering van die projek, aangesien hulle ‘n verantwoordelikheid het ten opsigte van die N1 wat deur die dorpsgebied loop. Van die bedrae wat genoem word be-loop sowat R1,2 miljoen.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines