

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 May 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Sy pa se moordenaar is gevonnis, maar dit is ‘n hoofstuk in die De Jager-familie se lewens wat nog nie afgesluit kan word nie.
“Ons kan nie nou al die boek toemaak nie .... ons het nog vier om te gaan,” sê mnr. Herman de Jager, seun van vermoorde plaasboer mnr. Piet de Jager. Sy woorde kom nadat die 20-jarige Bethuel Mulaudzi op 13 Mei vanjaar deur die rondgaande hooggeregshof hier tot 30 jaar gevangenisstraf gevonnis is. Mulaudzi het 20 jaar gekry vir die moord op die 65-jarige mnr. De Jager, ‘n plaasboer van Levubu in September 2003. Hy is ook gevonnis tot tien jaar gevangenisstraf vir die gewapende roof op mnr. Johan de Wilde, ook van Levubu, voor die moord op mnr. De Jager. Mulaudzi sal ‘n verdere twaalf maande gevangenisstraf op ‘n klag van aanranding teen mnr. De Wilde saam met die 10-jaar vonnis uitdien. Tydens vonnisoplegging het Mulaudzi geen emosie getoon nie.
Mulaudzi se inhegtenisname en daaropvolgende skuldigbevinding het ‘n einde gebring aan sy maandelange terreurveldtog in die Levubu-omgewing as bendeleier. Gedurende die tydperk is die Levubutak van die polisie skerp gekritiseer vir hul onvermoë om die voortslepende geweldsmisdaad te bekamp. Die moord op mnr. De Jager het uiteindelik daartoe gelei dat die polisie se topstruktuur op Levubu vervang is. Die algemene gevoel was dat dit jammer was dat iemand eers moes sterf.
Aanvanklik is vyf mans in verband met die moord op mnr. De Jager aangekeer, maar weens onvoldoende bewyse is die sake teen vier van Mulaudzi se medebeskuldiges teruggetrek.
“Regter Legodi het self erken dat Mulaudzi nie alleen opgetree het nie en het gelas dat die sake teen die ander vier verdagtes weer geopen moet word,” sê Herman. Hy het hoë lof vir Regter Legodi en sê die uitspraak het hom weer nuwe vertroue gegee in die Suid-Afrikaanse regstelsel. Herman beskou die verhoor van die ander vier verdagtes, van wie sommige reeds agter tralies sit op ander aanklagte, as ‘n blote formaliteit. “Die groot werk is klaar gedoen danksy die regter en Mulaudzi se uitwysings is deur die hof aanvaar,” sê Herman. Dit blyk dat Mulaudzi ook sal optree as getuie in die verhoor van die ander vier.
“Ten spyte van tekortkominge in die ondersoek en saak, het geregtigheid geseëvier,” sê Herman. Sy sentiment word gedeel deur sy ma en eggenoot van wyle mnr. De Jager, Lenie. Sy sê sy was aangenaam verras met die uitspraak.
“Ek voel verlig. Die uitspraak stuur ‘n duidelike boodskap aan ander misdadigers,” voeg Herman by. Hy sê egter dat, toe hy by die hofsaal uitstap, het hy skielik tot ‘n finale besef gekom dat niks ooit weer sy pa sal terug bring nie. Herman sê hy het gedink hy gaan baie beter voel, maar hy het nie.
Vrydag die 13de was beslis nie ‘n gelukkige dag vir Mulaudzi nie. Ten spyte van sy swaar vonnis moet Mulaudzi nog tereg staan op klagte van poging tot moord en gewapende roof op die 74-jarige mnr. Frits Wagner, ook van Levubu. Mnr. Wagner is tydens ‘n inbraak by sy plaaswoning ernstig gewond in Julie 2003. Gelukkig het hy die aanval oorleef.
Intussen het die voorsitter van die TLU-SA, mnr. Dries Joubert, ook die vonnis verwelkom. Ook hy het hoë lof vir Regter Legodi.
“Die regter het die saak op ‘n bevoegde, oop en regverdige wyse hanteer,” sê Joubert.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
